Tuesday 31 January 2012

Bainskloof steier onder brande

BAINSKLOOF. – Die afgebrande ruïne van ’n eens spoggerige strooidakhuis getuig van die verwoestende brande wat die afgelope naweek, gister én deur die nag nog in die berge hier gewoed het.

Ook in die Slanghoekvallei by Rawsonville is groot skade aangerig, nie net aan duisende hektaar fynbos nie, maar ook aan wingerde op die plase van twee broers.

In die Calabash-gedeelte van Bainskloof het me. Diana Smith van Gauteng, suster van die huiseienaar, vertel hoe verslae hulle almal is. Sy was toevallig op Montagu met vakansie toe hulle die tyding gekry het.

Haar broer, mnr. Flip Nel (66), is ’n ekoloog wat tans in Zambië besig is om ’n wildtuin te vestig. Die huis wat Sondag in ligte laaie gestaan en gister nog plek-plek gesmeul het, is volgens Smith sy aftreehuis.

“Ek is so hartseer. Hy is reeds op aftree-ouderdom en hy het geweldig daarna uitgesien om hier te kom bly. Ons moes hom met die nuus bel. Hy was platgeslaan. Maar die assessor was nou net hier en dit klink positief,” het sy aan Die Burger gesê.

Net om die draai tussen die volgende kranse is skade van sowat R1 miljoen aan ’n nuwe blok cinsaut-wingerd aangerig. Daarby is ’n gedeelte van die pinotage-, muskadel- en colombar-blokke, waar die oes vandeesweek sou begin het, ook erg beskadig. Mnr. Pieter le Roux (36) wat saam met sy pa, Johan (62), en sy oom, Hugo (56), op die plase Môreson en Tweeheuwels in die Slanghoekvallei boer, het gesê hy het gedink hulle gaan alles verloor.

“Toe ek daai vlamme so 10m hoog hier langs die skuur sien kom, toe dog ek die hele plaas gaan afbrand. Maar ons is bitter dankbaar. As die bure van die Breërivier- en Slanghoek-gebiede nie ingespring het nie, sou die skade soveel groter gewees het. As die vuur so aangehardloop kom, dan weet jy nie waar om te vat of waar om te los nie.”

Mnr. Danie Wilds, brandweerhoof van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM), het gesê minstens 170 brandslaners, 20 voertuie en drie helikopters was Sondag op die toneel.

Gister is die helikopters net op gereedheidsgrondslag geplaas met nog 60 brandslaners op die vuurlyne en 12 brandweerwaens van die KWDM in die berge.

Die Slanghoek-gedeelte, sowel as die Calabash-, Bush Pub- en Steenbokpark-gedeeltes, is gisteraand gepatrolleer. Teen druktyd was die brand op die gedeelte van die berg wat heeldag gebrand het steeds nie onder beheer nie.

Mnr. Riaan Jacobs, brandweerhoof van die Overstrand-munisipaliteit, het gesê die brand tussen Thesselaarsdal en Stanford is nou meer in bedwang.

Dié brand het oor die naweek ook gedreig om naby eiendomme handuit te ruk. ’n Sterk wind wat kort-kort draai, het die lewe vir hulle moeilik gemaak, het Jacobs gesê.

“Die vlamme stap nou stadig af hier by die Kleinriviersberge, weer aan Overstrand se kant. Nou maak ons voorbrande rondom al die plaas- en vakansiehuise om hulle te beskerm,” het hy om 17:00 gesê.

“Ons het vandag twee helikopters gebruik om die vuur, wat plek-plek gespring het, net dood te druk. Die wind tel in ons guns, maar ons sal die situasie steeds deurnag monitor.

- Die Burger

No comments:

Post a Comment