Tuesday, 10 January 2012

Jong man oorleef 80m-val wonderbaarlik

Foto: Mnr. Francois de Ridder word ná ’n val van sowat 80?m met ’n gebreekte nek, rug en ribbes in die Frere-hospitaal in Oos-Londen behandel. Foto: Verskaf

BULTFONTEIN. – ’n Groot wonderwerk en ’n getuienis van God se genade is hoe die redding van ’n jong man van Bultfontein, wat sowat 80 m teen ’n rotshang af tot op ’n lysie en daarna verder tot onder in ’n rotsgleuf by die see geval het, beskryf word.

Mnr. Francois de Ridder (22) se nek, rug en ribbes is in die val op Morganbaai in die Oos-Kaap gebreek en sy regterenkel is vergruis. Ondanks al die beserings is hy nie verlam nie.

Francois sal vermoedelik geruime tyd in die Frere-hospitaal in Oos-Londen behandel moet word voordat hy na die Vrystaat oorgeplaas kan word uit vrees dat enige verskuiwing nou permanent skade kan aanrig.

Sy pa, Theuns, wat Saterdag ná die ongeluk van Bultfontein gejaag het om by sy gesin te wees, sê hulle is ongelooflik dankbaar jeens die gemeenskappe van Bultfontein en Morganbaai wat hulle ondersteun. “Daar was in ’n stadium ses vrywillige dokters op die ongelukstoneel.”

Francois, sy ma, Jeanette, en sy sussie, Ella, was met vakansie toe hy Saterdagoggend wou gaan hengel. Hy het sy kamera uit sy rugsak gehaal om ’n foto te neem, gegly en teen die hang afgetuimel tot op ’n rotslysie sowat 65 m verder. Hy het sy kop teen ’n klip gestamp en was toe bewusteloos. Sy rugsak se gewig het hom van die lysie afgeruk en hy het nog sowat 12 meter verder op die agterkant van sy nek tot onder geval.

Hengelaars wat hom sien val het, het hom te hulp gesnel en ’n skoolmeisie het noodhulp toepas totdat hulp opgedaag het. Die gety was besig om in te kom en reddingswerkers het langer as vier uur gesukkel om hom uit te kry.

Mense in agt verskillende gebedsgroepe op Facebook bid vir Francois en ’n hulpfonds is gestig om vir sy behandeling te help betaal. Bel mnr. De Ridder by 074-445-7447, of mnr. Volla du Plessis van Bultfontein by 083-636-1555.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment