Friday 13 January 2012

'Koue voete' oor vreemde weer-wet

Pretoria – Die departement van omgewingsake het oënskynlik koue voete gekry oor ’n omstrede klousule in die voorgestelde wysigingswetsontwerp van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAW).

Dít kom nadat ’n storm Donderdag losgebars het oor voorstelle dat landsburgers met miljoene rande beboet kan word of selfs in die tronk kan beland as hulle mekaar, sonder skriftelike toestemming van die SAW, oor uiterste weersomstandighede of lugbesoedeling waarsku.

Albi Modise, hoofdirekteur van kommunikasie by die departement van omgewingsake, het Donderdag in ’n verklaring gesê die departement was nie “dié hewige reaksie en kommer” oor die strafmaatreëls te wagte nie.

Hy meen die parlement sal waarskynlik nou die wysigingswetsontwerp na die departement terugstuur vir die hersiening van die omstrede kwessie oor strafmaatreëls.

Gareth Morgan, DA-woordvoerder oor omgewingsake, het dié klousule in die wysingingswetsontwerp as “drakonies” en “lagwekkend” bestempel.

Hy het gesê dit is in die mens se aard om sy medemens teen uiterste weersomstandighede te waarsku. Dit is ook ’n manier waarop mense mekaar beskerm. As die wetsontwerp deur die parlement aanvaar word, sal mense dié geleentheid ontneem word, het Morgan gesê.

Volgens Modise is die klousule met die “beste bedoelings” in die wetsontwerp ingeskryf om te verseker Suid-Afrikaners word teen “vals, verdraaide en misleidende” inligting beskerm.

Hy het gesê verkeerde inligting oor weersomstandighede kan onnodige paniek onder mense veroorsaak wat kan lei tot ernstige beserings en stres.

Hy het daarop gewys sulke voorvalle het al in die verlede voorgekom. Dit het glo daartoe gelei dat mense woonbuurte ontruim het en nooddienste “onnodig belas” is.

Modise het beklemtoon sedert die stigting van die SAW was dié diens die enigste amptelike verskaffer van inligting oor “uiterste weersomstandighede om te verseker dat met ’n enkele stem oor die aangeleentheid gepraat word”.

“Dit was nog altyd onwettig om vals inligting uit te gee. In die voorgestelde wetsontwerp word vir die eerste keer daarvoor voorsiening gemaak dat mense wat onwettige weerwaarskuwings versprei, vervolg kan word.

“Dit het nou duidelik geword dat hierdie voorstelle beskou word as verreikend. Die departement het daarvan kennis geneem dat sommige kommentators meen die wysigings gaan toegang tot noodsaaklike inligting oor weersomstandighede en lugbesoedeling- wat noodsaaklik is vir gemeenskappe se gesondheid, veiligheid en welsyn, beperk.

“As die parlement die wetsontwerp na die departement terugstuur, sal ons natuurlik noukeurig na die klousules kyk wat kommer wek en die nodige aanpassings maak.”

Modise het voorts gesê die huidige voorstelle moet ook “binne konteks” gelees word omdat klimaatsverandering besig is om weersomstandighede dramaties te verander. “Ons moet veerkragtigheid teen uiterste weersomstandighede ontwikkel en daarom moet ons seker maak ons waarskuwingsmeganismes is akkuraat en doeltreffend.”

Morgan het die departement daarvan beskuldig dat hy ’n monopolie in die SAW wil vestig deur “swak” wetgewing.

“Dit lyk egter nou of hulle wel koue voete gekry het.”

Modise het bygevoeg die les wat die departement uit die gebeure geleer het, was dat lewendige openbare debat die regering op sy tone hou om goeie wette te maak.


- Volksblad

No comments:

Post a Comment