Wednesday 4 January 2012

SAWD0S Holiday Alert 2011/2012

Minder sterf op paaie, wys voorlopige syfers

Effens minder mense is in Desember in padongelukke dood as in dieselfde tydperk die vorige twee jare, blyk uit voorlopige syfers van die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC).

Die RTMC het in ’n verklaring gesê 1 232 mense is verlede maand in 1 027 motorongelukke op Suid-Afrikaanse paaie dood.

Dié syfer sal gewysig word wanneer die RTMC alle inligting oor noodlottige padongelukke van al die provinsies gekry het.

1 358 mense is in Desember 2010 op die land se paaie dood en 1 549 in dieselfde tyd in 2009.

Volgens mnr. Gary Ronald, woordvoerder van die Automobiel-Asso­siasie, sal dit nog ’n maand duur voordat die finale padsterftesyfer bekend sal wees.

Ronald meen die finale syfer sal naby aan verlede jaar s’n wees.

“Al is die syfer uiteindelik laer as verlede jaar, is dit nie rede om fees te vier nie. Ons moet ’n noemenswaardige daling in die aantal sterftes sien.”

Hy meen dit is net ’n sukses as minstens 1 000 mense minder in Desember op paaie sterf. Volgens hom is die aantal padsterftes daaraan te wyte dat daar nie genoeg gedoen is om dit te vermy nie.

“Daar is strategieë om padsterftes te verminder, maar daar is nie konkrete planne om die strategieë toe te pas nie. Wetgewing is nie genoeg nie. Opvoeding is die sleutel.”

Luidens die RTMC se verklaring het die metropolisie in die laaste week van Desember 179 131 voertuie afgetrek en 373 motoriste gearresteer.

In Gauteng is 4 316 voertuie afgetrek en 32 motoriste in hegtenis geneem. In KwaZulu-Natal is 218 mense gearresteer en twee in die Noord-Kaap.

- Die Beeld

Meisie (4) val na haar dood in Hillbrow

Johannesburg – 'n Vierjarige meisie het Dinsdagaand in Hillbrow na haar dood geval, het Johannesburgse nooddienste gesê.

Die meisie het in 'n gang by die Park Lane-hotel gespeel toe sy deur 'n venster gebars en ses verdiepings ver geval het, het Sinock Matobako, 'n woordvoerder, gesê.

Sy was ten tye van die voorval saam met vriende by die hotel.

Geen verdere inligting is tans oor die ongeluk beskikbaar nie.


- SAPA/Nuus24

No comments:

Post a Comment