Friday, 6 January 2012

Storm laat 19 gesinne haweloos in Oudtshoorn

Foto: Annie Andries agter haar huis waarvan die hele dak afgeruk is. By haar staan raadslid Hendrick Botha. Foto: Leon Campher

OUDTSHOORN NUUS - ‘n Geweldige wind, wat deur sommige inwoners as ’n mini-tornado beskryf is het op 26 Desember, binne tien minute, verwoesting in Dysselsdorp gesaai en 19 gesinne dakloos gelaat. Die Oudtshoorn-munisipalitiet moes ingryp om die hawelose gesinne te help. Hulle is tydelik in die Dysselsdorp Gemeenskapsaal ge-huisves. Volgens Ntobeko Mang-qwengqwe, munisipale woordvoerder het die munisipaliteit sowat 130 komberse en 50 matrasse aan die inwoners voorsien en is seile, pale en dakplate ook verskaf sodat strukture tydelik herstel kan word.

Volgens raadslid Hendrick Botha, wat die storm beleef het, het die wind skielik opgekom. " Ek het by vriende gaan kuier en het meteens net ‘n donker stofwolk oor die bult sien kom en ons was genoodsaak om skuiling in die huis te soek."

Alhoewel die meeste skade in die informele nedersetting aangerig is, is verskeie permanente huise erg beskadig. Dakplate is losgeruk en meters ver geslinger.

Annie Andries (53) is een van die inwoners wat duisende rande se skade gely het. Haar huis se hele dak is afgeruk en ‘n lamppaal agter haar woning is ook deur die krag van die wind uit die grond geruk.

Nog ‘n inwoner, Jan Rabie, het groot gate in sy dak gewys wat veroorsaak is toe sy bure se dak bo-op sy huis beland het.
Die kragtige wind het onder andere ook die palissade heining van St. Konrads Laerskool platgevee, die nuwe kleuterskool se afdak afgewaai, groot skade aangerig by die klubhuis van die sportstadion en talle bome ontwortel.

Quinton Jacobs van die weerkantoor op Port Elizabeth sê, "Op hierdie stadium kan ons dit nie bevestig as 'n tornado nie, omdat ons nie radar het in die area nie. Dit kan slegs bevestig word nadat die skade ondersoek is."

Die wind wat verwoesting gesaai het, het ook skade in Oudtshoorn aangerig. Paaie in die informele nedersetting Riemvasmaak, buite Oudtshoorn is erg verspoel deur ‘n hewige reënbui wat met die wind gepaard gegaan het. ‘n Kleuterskool in Smartie Town is ook erg beskadig.

Mense of besighede wat graag 'n bydrae wil maak om die slagoffers te help word gevra om met Prestons Heinse van die munisipaliteit kontak te maak by 078 943 3796.

- Oudtshoorn Courant

SAWDOS: Dit mag vir lesers voorkom of die SAWDOS talle artikels publiseer oor dieselfe storms and stormskade. Let asb. daarop dat die SAWDOS soveel artikels as moontlik plaas oor 'n voorval ten einde dit te bewaar vir rekord en navorsings doeleindes.

No comments:

Post a Comment