Sunday 15 January 2012

Suurpootjies gered ná brand

Foto: Dr. Ernst Baard, senior bestuurder van CapeNature se wetenskaplike dienste, hou een van die sowat 100 suurpootjies vas wat vandeesweek in die Elandsberg-natuurreservaat naby Tulbagh gered is. Foto: VERSKAF

STELLENBOSCH. – Sowat 100 suurpootjies, een van die wêreld se skaarste skilpadspesies, is in ’n soek-en-reddingspoging in die Elandsberg-natuurreservaat naby Tulbagh gevind nadat ’n vernietigende brand vandeesweek in die streek uitgebreek het.

Lede van CapeNature, wetenskaplikes van die Universiteit van Wes-Kaapland, personeelbeamptes van die Elandsberg-natuurreservaat en talle vrywilligers is tans in die middel van ’n “dringende soek-en-reddingsmissie” op soek na lede van dié skilpadspesie.

“Die reddingsaksie is op die been gebring om soveel as moontlik van die oorlewende suurpootjies te red wat die grootste deel van hul habitat in die brand verloor het,” het me. Marietjie Engelbrecht van CapeNature gesê.

Die brand in die berge tussen Wolseley en Tulbagh is Donderdag in bedwang gebring nadat brandweerbeamptes die afgelope week verbete teen die vlamme geveg het.

Die brand het oor ’n afstand van 40km gestrek en duisende hektare het afgebrand.

“Baie van die skilpaaie kan die brand oorleef, maar sal later doodgaan weens hul beserings, trauma en ’n tekort aan kos, water en skuiling,” het dr. Ernst Baard, senior bestuurder van CapeNature se wetenskaplike dienste, gesê.

Die suurpootjie (Psammobates geometricus), waarvan minder as 3000 oor is en wat slegs in die Wes-Kaap voorkom, word nog net in oorblywende stukke renosterveld aangetref.

Dit het ’n groot deel van sy habitat verloor weens boerdery-bedrywighede, veldbrande en uitheemse plantegroei.

Volgens Engelbrecht sal die suurpootjies wat gered word, gerehabiliteer en later weer in die herstelde veld vrygelaat word. Ongeveer 80% van die skilpadspesie kom in die Elandsberg-natuurreservaat voor en word daar beskerm.

Benewens die suurpootjies is talle rooipens-skilpaaie en padlopertjies ook gered.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment