Thursday 26 January 2012

Vuil swembad eis seun (10)

Delareyville – ’n Tienjarige seun het in die troebel water van die onbewaakte openbare swembad hier verdrink.

Lebogang Mokhatsane, sy sussie en nefie het Dinsdagmiddag deur ’n gat in die heining tot by die verlate, vervalle swembad gekom.

Chris Olivier, ’n lid van die rolbalklub langs die swembad, het Woensdag vertel twee kinders van omtrent vier jaar oud het Dinsdagmiddag laat by die klub aangehardloop gekom en “metsi” (water in Tswana) geskree.

“Ek het die tuinier gevra om te tolk.”

Volgens die tuinier, Piet Mashaba, het die twee gesê hul boetie het gegly en in die water geval.

Mashaba en Olivier is saam na die swembad. Daar het ’n hopie klere langs die swembad gelê, maar Lebogang was skoonveld. Die mans het borrels op die oppervlak gesien.

Olivier het die polisie gebel. “Nie een van die polisielede wat opgedaag het, kan swem nie. Ek dink hulle het toe die brandweer ontbied, maar ek was so ontsteld dat ek gegaan het.”

Die seun se lyk is later uit die vuil poel vol drywende plastiekbottels gehaal. Die water is so groen dat dit onmoontlik is om diepte te skat en die kinders het vermoedelik gedink die poel is vlak.

Carín Visser, raadslid in die Tswaing-gebied, wat onder meer Delareyville bedien, het gesê die gemeenskap het al in Oktober verlede jaar ’n vergadering met die munisipaliteit gevra omdat hulle bekommerd is oor veiligheid by die ongebruikte swembad.

“Nie die speaker of burgemeester het opgedaag nie, net die (destydse) munisipale bestuurder.

’n Vrou het aangebied om die swembad gratis op te knap en op ’n langtermynkontrak-grondslag vir die munisipaliteit te bedryf, maar die munisipaliteit het nie op haar voorstel gereageer nie.”

Die swembad is boonop verlede jaar vol getap om water te voorsien vir die bou van ’n skool in die omgewing, het Visser gesê.

’n Gat is in die swembad se omheining gemaak sodat voertuie kon inkom om water te tap. Dié gat was eergister Lebogang se poort na die dood.

Die huidige munisipale bestuurder, Shadrack More, het met Beeld se navraag Woensdag vir die eerste keer van die verdrinking gehoor.

“Ek sal die saak ondersoek,” het hy gesê.

’n Geregtelike ondersoek is aan die gang, het kapt. Aafje Botma van die polisie gesê.

- Beeld

No comments:

Post a Comment