Monday 12 March 2012

Gif gebuit wat soos kitskoffie lyk en ruik

’n Vragmotor met ’n vrag gifstof wat soos kitskoffie lyk, is die naweek naby Heidelberg aan die Oos-Rand gekaap.

Lt.kol. Katlego Mogale, Gautengse polisiewoordvoerder, het gesê die vragmotorbestuurder is Vrydag kort voor 20:30 deur kapers van die pad gedwing.

“’n Vuurwapen is op die bestuurder gerig en hy is uit die stuurkajuit van die MAN-vragmotor gedwing,” het Mogale gesê.

Die gifstof was in seilsakke verpak en vir ’n myn in die omgewing bestem.

Volgens Mogale is die gekaapte voertuig die laaste keer naby ’n brug oor die N3-hoofweg naby die Vosloorus-oorpad opgemerk.

“Daar is vir ons gesê die gifstof lyk en ruik soos kitskoffie,” het Mogale gesê.

Die “koffie” is gister geïdentifiseer as Casa-poeier.

Dit is ’n dekstrien-soort chemikalieë vir mynproduksie.

Daar was kommer dat die kapers moontlik die gifstof aan niksvermoedende verbruikers sal wil afsmeer.

“Mense moet onder geen omstandighede die gifstof gebruik nie,” het Mogale gesê.

Enigiemand met inligting oor waar die MAN-vragmotor met registrasienommers BG 22J VGP is, word gevra om die tolvrye misdaadinligtingsnommer 0 32211 te bel.

Die letters KVE is aan albei kante van die voertuig sigbaar.

- Beeld

No comments:

Post a Comment