Thursday 29 March 2012

’n Straal wat tot lugramp kan lei

Wat begin as ’n laserstraaltjie van ’n enkele millimeter het die uitwerking van ’n volsterkte kollig wanneer dit etlike honderde meters in die lug in ’n vliegtuig se stuurkajuit skyn.

Selfs al duur dit net enkele sekondes, bly die verblindende beeld daarvan boonop veel langer in ’n vlieënier se sig.

Dít is hoe vlieëniers die uitwerking van lasers, wat toenemend op vliegtuie gerig word, beskryf.

ATNS, wat verantwoordelik is vir lugverkeersdienste in Suid-Afrika, het die naweek gewaarsku byna 200 sulke voorvalle het die afgelope twee jaar by die land se grootste lughawens voorgekom.

Beeld het vandeesweek ook vasgestel dat die lasers, wat gewoonlik gebruik word om sterre na te speur, vryelik op vlooimarkte en op die internet beskikbaar is vir so min as R200.

Op ’n enkele mark in die noorde van Pretoria het vier handelaars voorraad van die lasers in verskillende sterktes gehad.

Volgens ATNS het die meeste van die voorvalle wat aangemeld is (58,5%) by die Kaapstadse Lughawe voorgekom, gevolg deur Lanseria in Randburg (11%) en die O.R. Tambo- en die Oos-Londense Lughawe (elk 7,7%).

Volgens ATNS en vlieëniers is die laservoorvalle geen toeval nie.

Kapt. Margie Viljoen, kommersiële vlieënier en uitvoerende komiteelid van die Lugrederyvlieëniersvereniging van Suid-Afrika, het gesê by drie lughawens waar lasers in haar oë geskyn is, kon sy duidelik sien hoe die mense op die grond die vliegtuig se vlugpad begin volg.

In die meeste gevalle word lasers met ’n groen lig gebruik, maar volgens Viljoen het een van haar kollegas ook ’n voorval met ’n rooi laser beleef.

“Die uitwerking bly dieselfde. Omdat dit so skielik in volle intensiteit in jou oë skyn, is jou eerste reaksie om na die bron van die lig te kyk en dan kan jy niks buiten die lig sien nie.

“Dit het die laaste paar maande met my by Kaapstad, O.R. Tamby en by Lanseria gebeur en ek was gelukkig dat dit my elke keer net ’n kort tydjie verblind het,” het sy gesê.

“Dit was ook nie in een van die gevalle nodig om my landings te onderbreek nie. Die grootste probleem is dat dit op ’n kritieke tydstip in die vlug – opstyging of landing – die vlieënier se konsentrasie onderbreek.

“Die uitwerking kan vergelyk word met wanneer ’n mens in ’n rolprentteater sit en geboei is deur die storie en die volgende oomblik skyn iemand ’n kollig reg in jou gesig. Jy skrik en is momenteel gedisoriënteerd.”

Volgens haar is opvoeding die enigste wyse waarop mense bewus gemaak kan word van die gevolge van hul dade, naamlik dat ’n passasiersvliegtuig vol mense en ’n vlieënier wat nie kan sien nie, kan neerstort.

Afgesien van bewusmaking is strenger wetgewing wat die verkoop van die lasers reguleer ook nodig.


Mnr. Christo de Bruin, wat in ’n veiligheidstoestelwinkel in Pretoria werk, sê groen lasers soos die een hieronder kan blywende skade aan iemand se sig aanrig.

Hy sê die lasers is wettig en ’n mens hoef nie ’n lisensie te hê om dit te koop nie, maar hulle verkoop dit in die reël nie aan jongmense wat nie deur hul ouers vergesel word nie.

Hul winkel hou net 50 mW- en 100 mW-l asers aan, maar sterker lasers van 200 mW kan volgens hom plastieksakke smelt en selfs swart ballonne laat ontplof.

“Dink net watter skade dit aan jou oë kan aanrig.”

De Bruin sê hul grootste ­klante is die jagbedryf wat mense op nagritte vat waar die lasers glo gebruik word vir steruitwysing.

By Beeld se besoek aan die Montana Traders-vlooimark in die noorde van Pretoria was daar minstens vier winkels waarin die groen lasers vrylik beskikbaar was.

Vir so min as R250 kan mens ’n 200 mW-laser kry en vir R400 ’n 500-mW laser.

De Bruin meen daar is baie namaaksels op vlooimarkte wat nie werklik so sterk as wat dit sê nie.


Wettig en nie so duur: ’n Laser van 50 mW.

Oortreders al doodgeskiet

In die VSA het die rig van lasers op vliegtuie vanjaar tot meer as agt voorvalle per nag toegeneem.

Dít verteenwoordig ’n styging van bykans 13% teenoor dieselfde tydperk verlede jaar.

Volgens die Federale Lugvaartowerheid (FAA) is minstens 100 gevalle waarin vlieëniers newe-effekte weens die verblinding ervaar het verlede jaar aangemeld.

In Suid-Afrika was daar tot dusver nog net twee inhegtenisnemings weens oortredings met lasers. Nie een van hulle is nog afgehandel nie.

In die VSA is verskeie mense die afgelope drie jaar vir tussen twee en drie jaar tronk toe gestuur.

In een geval in die VSA en in nog een twee jaar gelede in Thailand is die oortreders doodgeskiet nadat hulle op polisiehelikopters geskyn en die polisie op hulle gevuur het.

- Die Beeld

No comments:

Post a Comment