Friday 30 March 2012

Swaar weer laat Mosselbaai bontstaan (24 Maart 2012 08h00 SAST)

Uitgebrande toerusting (die lae-volt verspreidingspaneel) in die elektriese substasie in Uitbreiding 6 het daartoe gelei het dat mense in die omgewing tot Maandagaand sonder krag was. Die substasie is direk deur die weerlig getref en die skakeltuig en verspreidingspaneel is heeltemal uitgebrand. Mnr Indren Naicker, hoof van die Munisipaliteit se elektrisiteitsnetwerk dienste, wys hier die skade. ‘n Mini-substasie moes inderhaas op die perseel geïnstalleer word om die kragtoevoer na die omliggende gebiede te herstel. Foto: Harry Hill

MOSSELBAAI NUUS - Laatslapers op Mosselbaai het Saterdagoggend knap na 08:00 letterlik met 'n knal wakker geskrik toe 'n donderstorm die dorp getref het.

Kort daarna het vet druppels neergeplof, voorlopers vir die swaar reën wat gevolg het. Binne oomblikke was groot dele van die dorp sonder elektrisiteit.

Weerlig het die dak van die Life Bay View hospitaal reg bokant die kraamsaal getref en benewens die dak ook telefone, rekenaars en ander elektroniese toerusting beskadig.

Dr Heinrich Sandilands, wat in die kraamsaal was toe die weerlig die dak getref het, berig dat die oorverdowende knal toe die weerlig die dak se nok getref het, hom momenteel verdoof het. Die eienaardigste was die onmiddellike, amper onheilspellende stilte na die knal, wat gebreek is deur die geskril van die alarms wat afgegaan het. Die elektrisiteit wat as gevolg van die weerligstraal deur die vertrek gestroom het, het selfs sy selfoon se werking sodanig beïvloed dat dit van vooraf ingestel moes word. Onmiddellik na die knal het dit gevoel of al die lug uit sy liggaam gepers is, amper soos wanneer 'n bom ontplof.

Hy sê teen die sement aan die een muur kon 'n mens die merke van die weerlig sien. Die hospitaal se dakteëls het heeltemal verflenter en het in klein stukkies letterlik neergereën. Vanuit die kraamsaal se venster kon hy die vlamme sien by wat later geblyk het die elektrisie substasie in Benevolent Park te wees.

"Wat is die kanse dat 'n mens in Mosselbaai in die hospitaal se kraamsaal sal staan en dìt beleef? Dis soos om te dink jy gaan in Marsshraat deur 'n straler getref word - eenvoudig onwaarskynlik" het dr Sandilands gesê.
Intensiewe Sorg-eenheid

'n Pasiënt, mnr Andrè Stander, wat na 'n hartomleiding in die eenheid langs die Intensiewe Sorg-eenheid gelê het, het net die hoogste lof vir die personeel se reaksie. Volgens hom het hy rugby gekyk toe die oorverdowende knal hom yskoud laat skrik het. Hy kon eers nie dink wat die knal veroorsaak het nie. Onmiddellik was die TV en die ligte af, maar later die namiddag kon hy darem weer die rugby volg toe die kragtoevoer herstel is.

Die hospitaalbestuurder, Lida Swart, sê die hospitaal se kragopwekkers het onmiddellik die kragtoevoer herstel, maar dat die hospitaal skade gely het met veral elektroniese toerusting wat beskadig is. Geen dienste is egter onderbreek nie, en omdat die hospitaal se oonde met gas werk, kon selfs die kosvoorsiening aan pasiënte vlot verloop. Van die personeel aan diens het egter baie groot geskrik en daar is reeds met ICAS vir berading gereël. Omdat die rekenaarnetwerke en veral e-pos nog nie optimaal funksioneer nie, kan sy egter nie 'n kosteberaming gee van die skade wat aangerig is nie.
Dr Sandilands berig dat verskeie praktyke in die onmiddellike omgewing skade aan hul rekenaarnetwerke, telefone en ander elektroniese toerusting gely het. Die hospitaal se rekenaarnetwerk, veral e-pos fasiliteite, het teen Dinsdag nog nie optimaal gefunksioneer nie.

Benvolent Park
Die grootste ontwrigting het egter gevolg op skade aan die munisipaliteit se elektrisiteitsinfrastruktuur by elektriese sub- en minisubstasies in Uitbreiding 6, Joe Slovo, die Hartenbos en Bayview areas en in Groot Brak/Glentana. Nooddienste het veiligheidshalwe die mense naaste aan die Benevolent Park substasie ontruim nadat weerlig die substasie raakgeslaan en elektriese stroomskakelaars en die verspreidingspaneel in die daaropvolgende brand vernietig is. Die totale beraamde herstelkoste het sowat R900 000 beloop. Die skade het tot redelike lang kragonderbrekings in veral Uitbreiding 6 en Joe Slovo gelei.

'n Inwoner van Benevolent Park, me Kathleen Edwards, het in 'n brief aan die Mossel Bay Advertiser haar dank teenoor veral hul bure in New Sunnyside uitgespreek wat inwoners oor die brand by die substasie gewaarsku het en aangedring het dat hulle hul eenhede ontruim. Sy het ook die grootste lof vir die plaaslike brandweerdienste gehad vir die wyse waarop hulle inwoners beveilig het en op die toneel gebly het om hul voortgesette veiligheid te verseker.

Benevolent Park se bestuurder, mev Josua, sê sy was binne oomblikke op die toneel. Die omgewing se telefone was ook buite werking, en haar man het hom per motor na die brandweer gehaas om hulp te ontbied. Die brandweer moes by hul aankoms die slot by die substasie oopbreek om by die brand uit te kom. Hulle moes herhaaldelik optree om die brand te blus omdat dit telkens opgevlam het. Veiligheidshalwe is die 13 eenhede naaste aan die substasie ontruim en is die mense uitgeplaas na familie, vriende en die siekeboeg. Sommige moes in die eetsaal geakkommodeer word totdat die situasie genormaliseer het.

Een van die inwoners wat reg langs die substasie woon was veral erg getraumatiseer omdat sy 'n bomontploffing in 1974 oorleef het. Baie van die ander inwoners van Benevolent Park was verbouereerd direk na die voorval.
Die omgewing se elektriese toevoer is eers om 20:15 op Maandag, 26 Maart herstel. Intussen moes die personeel kos vir die inwoners op gasstofies gaar maak. Toe dit blyk dat daar 'n gaslekkasie is, het mev Josua einde ten raad kos by die Superspar op die dorp gaan koop. Maandag het die 105 inwoners en 40 siekeboeg pasiënte eers om 15:00 middagete ontvang.

Benevolent Park het egter geen hulp van enige instansies op die dorp ontvang direk na die voorval nie. Hul industriële tuimeldroër het uitgebrand en die telefoonverbinding is eers Maandag herstel.

Mev Josua het net die grootste lof vir die wyse waarop die brandweer en munisipale amptenare die situasie hanteer het, maar is grimmig vir die politieke leiers wat kleinlike politieke voordeel uit die situasie probeer put het.

Dorp
Mosselbaai dorp se verkeersligte was vir 'n wyle buite werking, en direk na die voorval het besighede se personeel op die sypaadjies rondgestaan omdat die elektriese ligte buite werking was. Daar het egter geen noemenswaardige ongelukke weens die onweer voorgekom nie.

Ook in die Mosselbaai hawe het die weer 'n invloed laat geld toe die luukse vaartuig, die 'Clipper Odyssey', nie kon vasmeer nie. Deinings van tot ses meter het dit onmoontlik gemaak om die vaartuig veilig die hawe in te bring. Daarbenewens is die navorsingsboot, die Ocearch, ook na veiligheid gehelp nadat hul wenas aan boord probleme gegee het. Die hawe het egter kragopwekkers wat oombliklik ingeskop het sodat alle toerusting daar deurentyd ten volle gefunksioneer het.

Die seelewe het egter ook deurgeloop. 'n Dwerg walvis het op Diasstrand uitgespoel, en selfs op Santosstrand het die karkas van 'n rob uitgespoel. Die strande om Mosselbaai was besaai met opdrifsels.

Die swaar reënneerslae wat op die donderweer gevolg het, het onder andere waterskade aan paaie op die dorp aangerig.

ARTIKEL: NICKEY LE ROUX - MOSSELBAAI ADVERTISER

No comments:

Post a Comment