Thursday 31 May 2012

George besighede in puin gelê


Drie besighede is verlede Donderdagoggend in ‘n brand by die George-sakepark verwoes.

GEORGE NUUS - Verskeie besighede is verlede Donderdag dakloos gelaat nadat 'n brand by die George-sakepark in die nywerheidsgebied uitgebreek het. Die gebou word besit deur Business Partners Limited.

Duisende motorbande van Palm Tyres is in die brand, wat voor 01:00 ontstaan het, verwoes.

Neels Barnard van die George-brandweer sê hulle is omstreeks 00:50 na die toneel ontbied nadat 'n sekuriteitswag die brand binne die gebou opgemerk het.

"Kort ná ons aankoms het die brand vinnig versprei na 'n stoor waar motorbande gestoor was. Dit was moeilik om die brandende bande te blus omdat dit aanhou smeul het. Die brand het daarna bietjie handuit geruk en kon ons dit eers teen 04:30 weer onder beheer kry," het Barnard gesê.

Hulle het ook die hulp van Eden-brandweer ingeroep en brandweermanne was tot voor 14:00 op die toneel.

Barnard het die brandweermanne geloof vir hul dapper optrede en goeie werk.

Die sakepark in Luvenstraat, is langs Afrox in Albertstraat geleë. Afrox personeellede het voor 01:40 hul gaskanne met water afgespuit as veiligheidsmaatreël om dit teen die hitte van die vlamme langsaan te beskerm.

Mnr. PJ Botha van Palm Tyres sê ongeveer 22 000 splinternuwe motorbande wat in hul vier gehuurde store gehou was, het in die slag gebly. 'n Skoenfabriek en houtwerkplek, Eden Timber het ook heeltemal afgebrand.

Corene Marx, assistent-bemarkingsbestuurder van Business Partners, sê die sekuriteitswag het die rook by Eden Timbers, wat ook 'n perseel in die sakepark huur sien uitkom.

"By nadere ondersoek het hy gevind dat 'n brand aan die binnekant van die perseel versprei het. Daar was 'n ontploffing toe die brand na store van 'n bande-onderneming en 'n skoenfabriek versprei het," het Marx gesê.

Drie ondernemings is deur die brand in puin gelê en vyf huurders het waterskade by hul ondernemings opgedoen. Sewe ondernemings het geen skade gehad nie.

Forensiese ondersoekers was Vrydag op die toneel om die oorsaak van die brand vas te stel. Hulle sal eersdaags 'n verslag oor hulle bevindinge aan Business Partners oorhandig. Volgens Marx sal hulle met herstelwerk begin sodra die ondersoek voltooi is.

* Several businesses in the George Business Park were destroyed in a fire last Thursday morning.

ARTIKEL EN FOTO: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS

No comments:

Post a Comment