Wednesday 23 May 2012

Gold Reef City se tyd raak min

Kaapstad. – As jy jou kinders wil neem om in die myn by Gold Reef City af te sak, moet jy dit liefs voor Junie volgende jaar doen, want stygende suur mynwater kan dit teen daardie tyd heel moontlik bedreig.

Dit blyk uit voorleggings gister voor die parlementêre portefeuljekomitee oor omgewingsake en waterwese.

Die spoed waarteen suur mynwater tans in die sentrale Witwatersrand-kom opstoot, beteken dit sal teen Junie volgende jaar die omgewingskritiese vlak van 174 m onder die grondoppervlak bereik.

Dit is 17 m onder die laagste punt waarna mense in Gold Reef City se myn kan afsak.

Amptenare en kenners het uitgewys dat dit nie presies moontlik is om te voorspel wanneer en waar die suur mynwater bogronds gaan uitborrel nie.

Twee van die aspekte wat die spoed waarteen die mynwater styg, kan beïnvloed, is die reënvalsyfer in volgende jaar se somermaande (baie reën sal die grondwatervlak vinniger laat styg, en ’n droë seisoen stadiger) en die spoed waarteen die water uitgepomp kan word.

Die verwagting is dat die Elsburgspruit naby Germiston die eerste plek kan wees waar die mynwater uit die sentrale kom bo die oppervlak verskyn, en die Nigel-omgewing die eerste plek waar mynwater uit die oostelike kom kan uitborrel.

Dit sal egter nie gou gebeur nie, en planne om dit te voorkom deur die mynwater uit te pomp, nader finalisering.

Met die winter op hande is die departement van waterwese se taakspan vol vertroue dat hulle genoeg water uit die westelike kom in die skagte van die Rand Uranium-myn kan inpomp en behandel sodat die huidige uitborreling van mynwater aan die Wes-Rand sal ophou.

Behandelde water kan dan in die Tweelopiespruit ingepomp en slik in die Wes-Wits-put geberg word.

Twee groot struikelblokke is deur Johnny de Lange, voorsitter van die portefeuljekomitee en ANC-LP, vir die oplossing van die probleem geïdentifiseer.

Een is dat die beskikbare begroting heeltemal onvoldoende is. Dit moet as ’n kwessie van nasionale belang aangevul word.

Die ander is dat die 13?maande vir die daarstelling van ’n langtermyn-oplossing deur ’n nuut aangestelde taakspan te lank is.

Gareth Morgan, DA-LP, het voorgestel dat die nuwe taakspan se kantore onder in Gold Reef City se myn geplaas word om hulle tot dringendheid aan te spoor.

Die komitee het ook ’n landwye risikostudie oor suur mynwater gevra sodat niemand weer onverhoeds betrap word nie.

- Beeld

No comments:

Post a Comment