Wednesday 30 May 2012

Perd met laaigraaf uit swembad gered


Prince, ’n bruin merrieperd wat Vrydag in ’n swembad op ’n plaas naby Hoekwil geval het, is gered deur haar met behulp van ’n laaigraaf uit die water te lig. Foto: DBV

GEORGE. – Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) en die brandweer moes Vrydag ’n ongewone reddingspoging uitvoer toe ’n perd in ’n swembad beland het en nie kon uitkom nie.

Prince, ’n bruin merrieperd wat per ongeluk in dié swembad beland het, is uiteindelik met behulp van ’n laaigraaf uit die water gelig.

Die voorval het Vrydag op ’n plaas naby Hoekwil in die rigting van Karatara gebeur.

Dit is nie seker presies hoe Prince in die swembad beland het nie. Sy behoort aan Petra Buse, wat ten tyde van die voorval nie op die plaas was nie.

Die voorman en plaaswerkers het probeer om die perd uit die swembad te lok, maar verniet. Die DBV is omstreeks 10:30 gekontak om te kom help.

Sr.insp. Salome Botha van die Tuinroete DBV het die brandweer gevra om met die reddingspoging te help. “Ek het die eienaar aangesê om solank die swembad se water te laat uitloop.”

Volgens inligting was die perd toe reeds vyf uur lank in die swembad vasgekeer.

By die DBV-personeel se aankoms was twee brandweermanne, Johan Troskie en Badnoll Grootboom, reeds op die toneel.

Prince se kop was nooit onder die water nie. Sy was borshoogte in die water en het na die swembad se vlak kant beweeg.

“Die perd het gebewe van die koue,” het Botha vertel. “Almal het in die swembad gespring en begin om die water met emmers uit te gooi.”

Die DBV se veearts, dr. Elke Schwellnus, het die perd op ’n drup gesit en met komberse toegegooi.

“Ons het probeer om ’n ‘oprit’ teen die swembad se trappe aanmekaar te slaan sodat Prince kon uitloop, maar sy was te swak en kon skaars staan,” het Botha vertel.

Hulle moes toe ’n ander plan maak.

’n Buurman het intussen een van sy werkers gestuur om sy laaigraaf te gaan haal. Volgens Botha was die enigste uitweg om die perd met behulp van die laaigraaf uit die swembad te lig. “’n Wit sponsmatras is om haar maag vasgebind. Stewige bande is toe om die matras gedraai en aan die laaigraaf gehaak.”

Ná ’n drie uur lange reddingspoging is die perd na veiligheid gehys.

Die redding is bemoeilik omdat Prince gesukkel het om te staan weens koue en skok. Die perd het geen beserings opgedoen nie omdat die swembad met die invalslag vol water was.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment