Tuesday 29 May 2012

VIDEO: Brand verwoes winkels



Ses winkels in die Princess Crossing-winkelsentrum in Roodepoort is gisteroggend deur ’n brand in puin gelê.

Een van hulle, DisChem, is maar sowat ’n jaar gelede opgeknap. Voorraad ter waarde van R30 miljoen is vernietig, het Niall Hegarty, ’n direkteur van die Dis-Chem-groep, gesê.

Die brand het vroegoggend op die boonste vlak van óf Dis-Chem óf The Hub ontstaan, het Hegarty gesê. Die takke van The Hub, Contempo, Wimpy, Altech Autopage en Linens ’n Things is ook in die brand verwoes.

’n Groot skare mense het by ’n sirkel by die ingang van die sentrum langs Ontdekkersweg gestaan en kyk hoe 30 brandbestryders met agt brandweer­waens ’n verbete stryd voer om die vlamme te blus.

Robert Mulaudzi, woordvoerder van die Johannesburgse nooddiens, het gesê die eerste noodoproep is omstreeks 05:30 van ’n veiligheidswag by die sentrum ontvang.

“Ons was binne minute op die toneel,” het Mulaudzi gesê.

Brandbestryders het die dakvlamme vanuit ’n hyser probeer stuit, terwyl grondbemanning daarin kon slaag om die vlamme in die rigting van Pick n Pay te keer.

Teen 08:00 het groot dele van die sentrum se dak al inmekaargesak en verwoesting is oor sowat 70 m gesaai.

Die vlamme het kort ná 09:00 van DisChem na Linens ’n Things versprei.

Swart bolle rook het ure lank bo die sentrum gehang.

Die sowat 118 personeellede van DisChem sal volgens Hegarty by ander takke in die groter Johannesburg-omgewing ontplooi word. “Ons gaan hulle beslis nie afdank nie.”

Hegarty het klante aangemoedig om van alternatiewe apteke in die omgewing gebruik te maak om hul voorskrifmedisyne te bekom.

“Al ons apteke is met mekaar verbind. Ons kliënte kan steeds gehelp word.”

Niemand is in die brand beseer nie en die oorsaak van die brand word steeds ondersoek, het Mulaudzi gesê.

“Ons wil nie nou bespiegel nie. Die ondersoek kan selfs weke neem om te voltooi.”

- BEELD


No comments:

Post a Comment