Sunday, 3 June 2012

Bejaarde egpaar sterf vlammedood


SKOKGOLWE het gister deur Bloemfontein getrek oor die vlammedood waarin die bejaarde Piet en Baby Venter in hul huis in ’n aftree-oord gesterf het.

Die Venter-egpaar, albei 77, is in die oggendure in ’n brand in hul huis in die Welgedacht-aftreeoord Fleurdal deur rook oorval en het doodgebrand.

Hul verkoolde lyke is deur brandweermanne in die sitkamer naby die deur gekry, het Braam van Zyl, afdelingsoffisier van Mangaung se brandweer-en-reddingsdiens, gesê.

Die dak het met die aankoms van die brandweer reeds ingeval.

Volgens hom het die brand in die hoofslaapkamer ontstaan.

Van Zyl sê die egpaar het voor die vlamme probeer vlug, maar kon van die deure nie oopkry om uit te kom nie.

Alles in die huis en die Venters se motor het in die slag gebly.

Hoe die brand ontstaan het, is nog nie bekend nie.

Forensiese ondersoekers van die polisie in Pretoria stel ondersoek hierna in, het kapt. Rulene Kühn, provinsiale polisiewoordvoerder, gesê.

Sandra Tukker, sekretaresse van die oord, sê veiligheidswagte het omstreeks 01:00 “’n snaakse lig” by die Venters se huis gesien en alarm gemaak.

“Die veiligheidswag het onmiddellik alarm gemaak en die ander mense gewaarsku. Ons almal is geskok. Dit is baie sleg vir iemand om so te sterf.

“Ons het dit glad nie verwag nie. Dit is hartseer en tragies.”

Jannie de Welzim, oordbestuurder, sê as dit nie vir die veiligheidswagte se vinnige optrede was nie, kon meer mense gesterf het.

“Die huis langsaan was ook vol rook. Daardie mense kon ook dood gewees het.”

Hy sê die Venter-egpaar, albei sieklik, was bekend by inwoners. Baby was bedlêend en haar man het na haar omgesien. “Dit is ’n skok vir ons almal. Ons is ’n hegte gemeenskap.”

David Haarhoff, die Venters se buurman, het gesê hulle moes vinnig speel om te keer dat die brand na sy huis versprei. Sy huis is met donker rook gevul.

Hy sê hulle was magteloos en kon niks vir die Venter-egpaar doen nie. “Ons kon nie in die huis kom nie omdat alles toegesluit was. Die vlamme was ook te erg.”

Kamie Ramapi, die Venters se huishulp, moes gisteroggend met haar aankoms by die werk hoor hulle het doodgebrand.

“Hulle was goeie mense,” het sy gesê.

’n Geregtelike doodsondersoek word gehou.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment