Tuesday, 19 June 2012

Dolheid: Baie gratis ingeënt

Nadat ’n hond sowat twee weke gelede aan hondsdolheid in Chartwell, Johannesburg, gevrek het, het die staatsveearts en ’n span van 15 veeartsenykunde-studente, dieretegnici en omgewingsgesondheidstegnici gister honderde gratis teen dié dodelike siekte ingeënt.

’n Tent is op die parkeerterrein voor ingang vyf by die Fourways-winkelsentrum opgerig en volgens dr. Duma Mpofu, staatsveearts, het ’n groepie mense reeds vir hulle gewag toe hulle 09:00 daar aangekom het.

Honde van so jonk soos ses weke, parmantige keffertjies, groot waghonde en blasende huiskatte moes gister almal stilsit vir dié vinnige inenting.

Jaco Viljoen en Evert Olivier, finalejaar-studente by Onderstepoort, het baie van die inentings gedoen en moes baie geduld aan die dag lê om almal ingeënt te kry.

Viljoen verkies honde, maar Olivier sê katte is makliker om in te ent.

“Ek vat hulle net agter die nek om al die skerp punte weg te hou.”

Sommige het met hope diere daar opgedaag.

Rob Miller, wat ’n hoewe in Chartwell besit, het al 12 sy honde gebring en diegene wat die inentings gedoen het, moes kophou dat hulle nie ’n hond oorsien of twee keer inent tussen die woelige spul nie.

Dr. Jackie Gray, ’n homeopaat van Broederstroom, het haar vier kinders en elkeen se troeteldier gebring.

Haar dogter, Tibby (9), het die hondjie wat sy gisteroggend gekry het, ook laat inent.

Volgens Mpofu het hulle besluit om die inentings in Fourways te doen aangesien dit naby die gebied is waar die hondsdolheid-geval was.

Die eienaar van Simba, die hond wat aan hondsdolheid dood is, was ook bekommerd dat haar hond met ander honde in die Kingfisher-park in Fourways kontak gehad het.

Mpofu sê hulle beoog om diere in Tembisa aan die Oos-Rand in te ent tussen 2 en 13 Julie. Hulle sal gereeld hul werkstasie skuif omdat die meeste Tembisa-inwoners nie voertuie het nie en dus met hul diere sal moet loop.

- Diere kan vandag en môre steeds van 09:00 tot 17:00 gratis by die oop gebied naby ingang vyf by die Fourways-winkelsentrum ingeënt word.

- Beeld

No comments:

Post a Comment