Wednesday, 6 June 2012

Menasie-brand eis opsigter



Die Shamrock-onderoffisiersmenasie op Potchefstroom is in vlamme gehul. Foto: Kobus Roux

Die opsigter van die Shamrock-onderoffisiersmenasie op Potchefstroom is dood nadat dié menasie se grasdak blykbaar vlamgevat en die gebou afgebrand het.

Die basis se brandweer, wat minder as 1 km van die menasie af sy gebou het, het boonop glo eers nadat die brand heeltemal buite beheer was op die toneel aangekom.

Die menasie by die Potchefstroom algemene steunbasis het Vrydag omstreeks 21:00 aan die brand geraak.

Sktr. Moses Diale Moses (50) van die weermag se werke-eenheid het in die brand gesterf. Sers. Philani Nkwalase, Noordwes-polisiewoordvoerder, het gesê sy familie van Rustenburg het sy lyk uitgeken. Moses het in die menasie gewoon terwyl daar gebou is om te verhinder dat vandale dit besteel of plunder.

Volgens Nkwalase het die polisie se forensiese afdeling die toneel ondersoek, maar is die oorsaak van die brand nog onbekend. ’n Verslag daaroor sal na verwagting later uitgereik word.

Die koste-omvang van die skade moet volgens Nkwalase ook nog bepaal word.

Die basisbrandweer was vroeër die dag by die skietbaan besig met voorbrande vir die winter. Die brandweermanne het ná werk by dieselfde menasie se kroeg gekuier.

Die menasie het uit ’n kuier-deel met ’n kroeg sowel as BBP-woonstelle bestaan. Dit het die laaste paar jaar honderdduisende rande gekos om dit stuk-stuk aan te bou.

Die weermag het Diale se dood gister bevestig. Afgesien van die polisie-ondersoek het die weermag ook ’n raad van ondersoek na die voorval belê.

- Beeld

No comments:

Post a Comment