Friday, 1 June 2012

Soektog na lyke in myn afgelas

Kaapstad. – Die soektog na die lyke van onwettige myners wat verlede Dinsdag in die Bontekoe-myn buite Kleinzee in die Noord-Kaap vasgeval het, is Woensdagaand – net meer as ’n week ná die voorval – afgelas.

Phillip Barton, uitvoerende hoof van De Beers, het gister gesê die hele gebied wat ingestort het, is deurgesoek en geen lyke is meer gekry nie.

Sowat 30 myners het ná ’n rotsstorting in die ou mynskag vasgeval. 11 het daarin geslaag om ongedeerd uit te kom. Nog een is verlede Dinsdagmiddag lewend uitgehaal.

’n Reddingspan het sedert verlede Woensdag tien lyke uit die myn gehaal. Almal is intussen na Kaapstad se staatslykhuis gebring waar die identiteit van die oorledenes bepaal word.

Volgens Barton het die reddingspan gesoek deur al die areas wat die ander myners uitgewys het.

Hy het gesê ’n lid van die plaaslike regering, sowel as die burgemeester van die Namakwaland-distriksmunisipaliteit, is saam met die reddingspan die mynskag in om seker te maak dat geen lyke agtergebly het nie.

Barton het gesê die veiligheidsmaatreëls by die myn gaan verskerp word. De Beers gaan ook al die gruis wat uitgegrawe is, wegneem en op ’n veilige plek berg.

Dawid Markus, ’n gemeenskapsleier van Hondeklipbaai, het die besluit om die soektog te staak as ondeurdag bestempel, asook die feit dat niemand met familielede van mense wat moontlik onder in die myn vasgeval het, gekommunikeer het nie.

- BEELD

No comments:

Post a Comment