‘n Boom in Meadestraat het Dinsdagaand in die stormwind in die slag gebly. Foto’s: Christo Vermaak
GEORGE NUUS - Stortreën, donderslae en stormsterk winde van tussen 55km/h en 78km/h het Dinsdagaand net na 21:00 die Suid-Kaap getref.
Volgens die weerkantoor in George, wat die hele Eden-streek bedien, kan ons tot en met Saterdag nog meer van dieselfde verwag. In Mosselbaai het 'n huis oorspoel en was die krag in sekere areas vir ure af, maar in George is teen druktyd slegs geringe skade aangemeld.
By die lughawe het die skadunette in die parkeerarea in die slag gebly en in Borcherds het 'n sterk stroom water deur Heidedal Primêr se gronde gekloof. 'n Groot, volwasse boom op die hoek van Meade- en Nortierstrate se stam het morsaf gebreek en in die pad beland. Presies 'n jaar gelede is groot dele van Borcherds oorstroom na hewige storms George en omstreke getref het.
Die bestuurder van die George-weerkantoor, Riaan Cilliers sê Dinsdagaand se donderstorm is tipies wat gebeur wanneer 'n frontale sisteem deur 'n gebied beweeg. "As 'n kouefront deurbeweeg word dit tipies voorafgegaan deur donderweer. Die stortreën is baie goed in die sin dat dit ons riviere skoonmaak en die afloop na ons damme verbeter."
Voor die eendeweer die Suid-Kaap Dinsdag getref het was damvlakke in die gebied besig om te sak. Die Tuinroetedam in George was Maandag 76,6% vol terwyl die Wolwedansdam in Mosselbaai op 84,3% gestaan het. Teen gisteroggend was daar nog geen styging te bespeur nie aangesien dit minstens vier dae neem voor die afloopwater die damme bereik.
Met nog reën op pad en 'n indrukwekkende 28 mm wat gisteroggend by die waterwerke in Denneoord op George gemeet is, behoort die Tuinroetedam egter taamlik baie water by te kry. By die George-lughawe is 19 mm gemeet en by Tierkophut 15,8 mm. Die reënval in ander dele van die Suid-Kaap was ook goed.
Op Riversdal het 22,2 mm uitgesak, op Mosselbaai 13,8 mm, Groot-Brakrivier 18 mm, Waboomskraal 17,8 mm, Wildernishoogte 21,2 mm, Knysna 32,8 mm, Diep-walle 16,6 mm, Plettenbergbaai, 20,4 mm en in die Tsitsikamma, 16,2 mm. Die reënval het gepaard gegaan met stormsterkwinde en plek-plek het hael ook geval. In George het die wind 77,4 km/h gewaai, in Mosselbaai 61,6 km/h, in Knysna 63,7 km/h en in Oudtshoorn 54,4 km/h. Van sowat 55 km/h bereik 'n wind stormsterkte en staan in Engels as 'n 'gale force wind' bekend.
Volgens Cilliers is daar vandag en môre in George steeds 'n 60% kans vir reën met 'n minimum temperatuur van 11 grade wat vandag styg tot 18 en môre tot 16. Saterdag is daar 'n 30% kans op reën en is die maksimum temperatuur 'n koue 13 en die minimum net 8. Sondag is dit sonnig, maar ervaar George steeds die nadraai van die front. Koue lug word van die suide ingevoer en laat die kwik daal tot by 6 met 'n maksimum van 14. Vir Maandag word 'n minimum van 5 en 'n maksimum van 20 voorspel.
Cilliers het gewaarsku dat baie rowwe seetoestande van Lambertsbaai tot by Plettenbergbaai verwag word en eers teen Sondag sal afneem. Baie nat en koue toestande sal na verwagting oor die hele Suid-Kaap heers en stormsterk noord-westelike tot westelike winde van 65 km/h word tussen Kaappunt en Plettenbergbaai verwag.
David Mei doen opruimingswerk op die sypaadjie by Heidedal Primêr in Borcherds nadat ‘n stroom water Dinsdagnag sy pad deur die skoolgronde gebaan het.
ARTIKEL: ILSE SCHOONRAAD-REDAKTEUR
FOTO'S: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS
No comments:
Post a Comment