Wednesday 27 June 2012

Watermassa tref Pretoria-huise

Corrie Maritz het dié foto gistermiddag van sy swembad, wat byna nie meer sigbaar is nie, geneem nadat ’n waterpyp in Wonderboom, Pretoria, gebars en ’n watermassa deur sy huis gestroom het.

“’n Mens kan nie beskryf hoeveel water deur ons huis is nie. Dit het soos ’n waterval geklink.”

So het Petra Smith van Wonderboom, Pretoria, gisteraand gesê waar sy met haar voete in die modder in haar woonkamer gestaan het.

Dit was nadat ’n 600 mm-waterpyp van die Wonderboom-nek-reservoir omstreeks 16:45 gebars het.

’n Watermassa het sowat 20 huise in Van der Schyffstraat byna ’n uur lank gedeeltelik of heeltemal onder water en modder gehad.

Die vloere van al dié huise, waardeur die water in sommige heuphoogte gespoel het, was gisteraand die ene modder.

Lede van die Tshwane-brandweer moes enkele bejaardes uit hul oorstroomde huise na veiligheid bring.

Die reservoir hou 20 miljoen liter water en daar word beraam in die 45 minute wat die water uitgestroom het voordat dit toegemaak kon word, is veel meer as ’n miljoen liter water die berg af en deur die huise.

Smith het haar boeglam geskrik.

“Ons het oor die GPF-radio gehoor ’n pyp het gebars. My man het uitgegaan in die straat en ek het net gehoor ‘O, genade’ en toe kom die water.

“Dit het selfs by die voorste vensters ingeloop, so hoog was dit. Ons het maar al die deure oopgemaak sodat dit kan deurloop.”

Corrie Maritz het gesê hy het in sy studeerkamer op sy rekenaar gewerk.

“Ek het water gehoor en dadelik gedink ’n pyp het gebars. Toe ek in die gang kom, het water onderdeur die voordeur gespoel en dwarsdeur die huis begin stroom,” het Maritz gesê.

Die watervlak in sy tuin was gisteraand nog so hoog dat sy swembad byna onsigbaar was onder modderwater.

Ben Wannenburg, DA-wykraadslid, het gesê die pyp het gebars terwyl fondasiegate vir ’n nuwe reservoir gegrawe is.

- Beeld

No comments:

Post a Comment