Friday, 13 July 2012

Jongensfontein Haai-slagoffer op herstelpad


Dit is hoe Jacques Mostert se branderplank gelyk het nadat die haai dit beet gekry het.Foto: Louise Mouton

MOSSELBAAI NUUS - Die 29-jarige man wat op Vrydag, 6 Julie deur 'n haai by Sandstrand in Jongensfontein naby Stilbaai aangeval is, sterk goed aan.

Mnr Jacques Mostert was ongeveer 15m van die strand af en oppad uit, toe hy uit die hoek van sy oog iets gewaar. "Ek het gedink dis 'n dolfyn." Maar toe die bykans 4.5m lange haai die eerste keer vlugtig verby hom swem, het adrenalien ingeskop en het Jacques vinnig sy voete op sy branderplank probeer lig. Die haai het toegeslaan en hom gebyt. Die haai se bo-kaak het onder sy heup in sy bobeen ingesink en die onderkaak in die middel van sy knie.

Jacques het toegekyk hoe die haai nog 'n keer om hom sirkel, skaars 'n meter van waar hy op sy branderplank was, onder die water in verdwyn en toe wéér om hom sirkel. Dit was toe wat 'n golf oor hom spoel en hom uitvat strand toe.
'n Vriend wat op die strand was het Jacques uit die water gehelp.

"Hy het my lewe gered deur 'n belt om my been te bind."

Volgens die woordvoerder van die NSRI, Craig Lambinon, het NSRI Stilbaai se span, Kaapse Natuurbewaring en die plaaslike polisie hulself na die strand gehaas. 'n Dokter wat per toeval ook daar was, dr Pieter Joubert, het gehelp om Jacques te stabiliseer.

Volgens Lambinon het Jacques twee ernstige laserasies, een aan sy linker bobeen en een aan sy linkerknie, met ernstige bloedverlies gehad.

Volgens die chirurg van die Life Bayview Hospitaal wat Jacques opereer het, kon hulle die haai se tandemerke op die femur voel. "Dit was baie naby aan 'n groot slagaar in sy onderbeen en 'n potensiëel baie ernstige besering," sê die chirurg.

In 'n operasie wat ongeveer 'n uur-en-'n-half geduur het, is sy wonde skoongemaak, die spiere en tendons en ook die senuwee is geheg. Teen druktyd was Jacques reeds uit die hospitaal ontslaan.


Mnr Jacques Mostert in sy hospitaalbed in die Life Bayview Hospitaal. Foto:LouiseKarsten

ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS

No comments:

Post a Comment