Saturday 28 July 2012

Uniondale: Leer uit vloedskade


Corne Schabort van Capri Helikopters in Mosselbaai het kom help kospakkies aflewer in die oorstromende Uniondale-distrik. Van links is Tippie Bouwer van Eden Rampbestuur, Corne Schabort, vlieënier, Iona Kritzinger, raadslid gemoeid met gemeenskapsdienste by George-munisipaliteit, Deon van Wyk, adjunk-brandweerhoof by Eden, Neels Barnard, waarnemende brandweerhoof by George-munisipaliteit, en Patric de Bruin, brandweerman van Eden-distrikmunisipaliteit. Foto: Verskaf

UNIONDALE - ‘n Paar belangrike lesse is geleer uit die vloed wat die uniondaleomgewing middel-Julie getref het. “Die belangrikste les wat ons geleer het, is dat tydelike herstelwerk aan vorige vloedskade wat meegee, groot skade aan ordentlike herstelwerk kan aanrig,” het Dave Hodgson,voorsitter van Agri Avontuur, na afloop van die naweek 13, 14 en 15 Julie se swaar reën en koue gesê. Volgens Hodgson het sowat 200 mm reën op De Hoop geval, 245 mm op Haarlem, en meer as 300 mm op Ongelegen. “Daar is skade - met die baie reën kan dit nie anders nie.”

Ou skade

By De Hoop het twee damme wat tydelik herstel is na 2007 se vloedskade, opnuut gebreek en amper groot skade laer af veroorsaak. Uniondale Poort is Saterdag as as voorkomende maatreël gesluit omdat gevrees is dat ‘n groot dam in De Hoop sou breek. “Omdat dit donker was en niemand sou weet as die dam padgee nie, is die pad om veiligheidsredes gesluit. Die groot dam het gehou, maar ‘n kleiner dam het gebreek en dit was toe net sowel dat die poort gesluit was. “As dit nie was vir die skoonmaakprojek in die Poort nie, sou die vloed infrastruktuur weer beskadig. Die brûe kon die massas water hanteer, totdat die dam gebreek het en ‘n moddergolf met ou stompe en klippe, wat deur boorde gestroom het, hom tref. Die massa is bo-oor die brug in die pad en was ‘n gevaar vir motors. Dit was maar van korte duur en die water het gou afgeloop.”

Volgens Hodgson is die skade wat deur die 2007-vloed veroorsaak is net gedeeltelik herstel deur die boere self. “Die skade in die hele Langkloof, wat die westelike en oostelike gedeelte insluit, beloop ten minste R60 miljoen vir die damme en Keerwalle. Die totale skade beloop R130 miljoen. Ons wag vir die nasionale Departement van Landbou vir die geld sodat die infrastruktuur behoorlik herstel kan word.” Die gebied vorm nou George se landelike wyke 24 en 25.

Helikopterhulp

Corne Schabort van Capri Helikopters op Mosselbaai het verlede Maandag help kospakkies aflewer in gebiede wat afgesny is deur oorstromings. Teen verlede week was heelparty gebiede steeds nie toeganklik nie. Weens die swaar reën was die Bo-Kouga pad onrybaar. “Ons boere probeer maar tydelik herstel sodat die paaie departement meer ernstiger skade in ander areas kan bystaan. Ons raak nogal goed met verspoelde paaie herstel. Seker maar die baie oefening.”

Lewensverlies

“Met die sneeu op die berge tot op die 1300 mvlak het die reëndruppels laer af in ys verander en dit was vrek koud,” het Hodgson gesê. Twee mense het weens die koue gesterf. Jan Kaptein (55) van Lyonville, Uniondale, het vermoedelik verkluim en Katrina Erasmus (85) van Avontuur was sieklik en het vermoedelik ook weens komplikasies gesterf.

Teen die Woensdag na die vloede was ‘n kopdoek al wat die polisie van Katrina Davids (43) kon opspoor. Davids het vermoedelik ‘n brug oor die Kliprivier by Joncksrust naby De Vlugt wou oorsteek, toe sy deur die vloedwater meegesleur is. “Sy het gehelp met die voedingskema by die Klipdrif Primêr,” het skoolhoof Renette Fourie gesê. “Sy het haar altyd oor die kinders ontferm, ons gaan haar baie mis.”

Samewerking

Nog iets wat geleer is uit die vloed, was dat werklik staatgemaak kan word op die gemeenskap en die plaaslike nooddienste. “Melding moet gemaak word van die toegewydheid van Wayne Young, van Eden Rampbestuur se brand en redding, wat die paaie met sy persoonlike voertuig gepatrolleer het vinnig opgetree het om mense te beveilig. Hy is goed bygestaan deur die res van die brandweerspan.

“Die boere het elkeen hul kant gebring om te help om skade te voorkom. Een boer het vir ons ‘n brug dopgehou sodat hy kan laat weet as die brug onder water is. Jy moet weet, daar was drie groot rugbywedstryde en die boere het buite rondgehardloop. “Ons werkers was ook fantasties. Nie een was onwillig om uit sy warm huis te kom om in die gietende reën en snerpende koue te help nie.”

Raadslede Gert Maclune en Marchell Kleynhans van die landelike wyke 24 en 25 het ook oral gehelp waar hulle kon. “As rdl. Kleynhans nie sy stem dik gemaak het in ‘n komiteevergadering nie, sou ons nie van die helikopter gebruik kon maak nie.” Wessie van der Westhuizen, burgemeester van Eden-distriksmunisipaliteit het verlede week Woensdag oor die rampgebied gevlieg om die skade te probeer bepaal en met rolspelers te praat.

Verwarring

“Nog ‘n les wat geleer is, is dat rampe in die Uniondale-gebied nie vanuit George 100 km van hier hanteer en bestuur kan word nie,” het Hodgson gesê. “Dit is onprakties en gevaarlik.”

- AgriFokus

No comments:

Post a Comment