Tuesday 31 July 2012

Passasiers vrees vir hul lewe op SAL-vlug

KAAPSTAD. – Passasiers aan boord van ’n vliegtuig van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het gister ’n “vreesaanjaende” vlug beleef toe die druk in die kajuit verminder het.

Van die passasiers aan boord van vlug SA326, wat van Kaapstad na die O.R. Tambo-lughawe onderweg was, het gesê dit was die mees vreesaanjaende vlug wat hulle nog ervaar het.

Die Boeing 737-800 het gister om 10:50 van die Kaapstadse Internasionale Lughawe opgestyg en in die middel van die vlug probleme ondervind. Volgens die passasiers het die lugmaskers en reddingsbaadjies outomaties ontplooi en het die vliegtuig baie naby aan die grond gevlieg.

Paul Kalenga, ’n lektor van Botswana, het op sy Facebook-blad geskryf: “Ons was nou baie na aan die dood op ’n SAL-vlug na Johannesburg. Ongelooflik dat ons dit vrygespring het.”

’n Ander passasier het op Twitter geskryf: “Die mees vreesaanjaende vlug van my lewe. Knap gedaan, die kaptein en bemanning, wat ons veilig laat land het.”

Die SAL het die voorval by navraag bevestig.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment