Tuesday, 17 July 2012

Strate in Oudtshoorn gesluit


Die brandweer se noodvoertuig moes vanoggend 'n Toyota-bakkie red wat dit gewaag het om oor die laagwaterbrug in Rademeyerstraat te ry. Foto: Petri van Zyl

OUDTSHOORN NUUS - Verskeie strate in Oudtshoorn is gesluit nadat die Grobbelaarsrivier afgekom het.

Rademeyerstraat is vroegoggend gesluit nadat ‘n Toyota-bakkie wat die oorstroomde laagwaterbrug wou oorsteek, in die middel van die brug bly staan het. Een van die brandweer se noodvoertuie het die bakkie na veiligheid gesleep.

Ander strate wat gesluit is, is Van der Rietstraat, St Johnstraat, Kerkstraat, Albertstraat en Vredestraat.

Plaasbewoners langs die Rooiheuwelspad is ook afgesny nadat die Kammanassierivier afgekom het.

Die munisipaliteit se rampbestuurafdeling het oor die naweek sowat 100 mense uit die plakkersbuurt Riemvasmaak verwyder en hulle word tans gehuisves in ‘n gemeenskapsaal. Die munisipaliteit het ook plastiekseile en komberse geskenk en ‘n sopkombuis is op die been gebring.

As jy hulp nodig het, kontak nooddienste by 044 203 3121, of as jy hulp wil verleen, kontak gemeenskapsdienste by 044 203 8303.

ARTIKEL: TISHA STEYN - Oudtshoorn Courant

No comments:

Post a Comment