Wednesday 1 August 2012

VRYSTAAT-aardbewing registreer 3,8

DIE aardbewing wat eergisteraand veral erg in die Suid-Vrystaat gevoel is, is waarskynlik die gevolg van ontlading weens natuurlike spanning in die aardkors wat oor tyd opgebou het.

Só meen kenners nadat ’n aardbewing eergisteraand omstreeks 22:30 ’n lesing van 3,8 op die Richterskaal geregistreer het.

Dié aardbewing het Vrystaters op sosiale netwerke omtrent op hol gehad en elkeen het ’n eie teorie opgehaal – van die wegraping tot vallende meteoriete. Die trillings is van Aliwal-Noord tot in Bloemfontein gevoel. Dit is egter veral gevoel op dorpe in die suide, waaronder Edenburg, Faure-smith, Koffiefontein, Petrusburg en Reddersburg. Party beweer dit het tot ses sekondes lank geduur.

Michelle Grobbelaar, eenheidsbestuurder van die Raad vir Geowetenskappe wat aardbewings in en om Suid-Afrika waarneem, sê ’n aantal verskuiwingslyne in die gebied kon ’n rol in die aardbewing gespeel het, maar ’n deegliker ondersoek sal nodig wees om die presiese oorsaak te bepaal.

Die swak sone of verskuiwingsvlakke in die Edenburg-omgewing is sover terug as 1912 bekend vir dié soort gebeurtenis, sê dr. Hermann Praekelt van die departement geologie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).

Praekelt sê spanning bou in die aardkors op tot op ’n punt en ontlaai dan skielik. Die energie wat só vrygestel word, gee aanleiding tot ’n aardbewing.

“’n Skudding van 3,8 op die Richterskaal word as voelbaar gedefinieer. ’n Skudding begin eers regtig skade veroorsaak indien dit meer as 5 is.

“Dit is egter ook ’n funksie van die tydsduur van die skudding. ’n Klein aardbewing (lesing kleiner as 4,9) kan byvoorbeeld ook skade veroorsaak indien dit lank genoeg duur.”

Hy sê die grootte van ’n aardbewing word bepaal deur die hoeveelheid energie wat afgegee word. “Die voortplanting daarvan vind plaas in die vorm van golwe en is dit die amplitude van die golwe wat deur die seismograaf gemeet word,” sê Praekelt.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment