Thursday 18 October 2012

32 vlug voor water

GEORGE. – ’n Groep van 32 stappers is gistermiddag met ’n lugmaghelikopter op die gewilde Walvis-staproete in die De Hoop-natuurreservaat naby Bredasdorp opgepik nadat hulle weens swaar reën vasgekeer is.

’n Stapper wat op sy eie van die Noetsie- na die Hamerkophut ge­stap het en as vermis aangegee is, is ook gered.

Die 55 km lange Walvis-roete, wat oor vyf dae strek, is baie gewild onder stappers en gewoonlik maande vooruit bespreek.

Die drama het ontvou nadat swaar reën die laaste paar dae in die Overberg-gebied geval het. Dit het sedert Sondag reeds 93 mm in die De Hoop-reservaat gereën en nog reën word voorspel.

Tierck Hoekstra, CapeNature se gebiedsbestuurder in die Overberg-distrik, het gister gesê vyf mense is teen 16:00 by die Cupi- dos­kraal-hut opgelaai. Onder hulle was ’n 72-jarige stapper. Sover bekend was daar geen kinders op die roete nie.

Altesaam 12 mense het self na die koppie by Vaalkrans gestap, waar hulle deur ’n voertuig van CapeNature opgelaai is. Een van hulle het geval, maar slegs ’n ligte skraap opgedoen toe sy op die nat voetpad gegly het.

Vroeër gisteroggend moes 12 mense by die Potberg-inligtingskantoor, waar die roete begin, omdraai.

“ ’n Lugmaghelikopter van die Overberg-lugmagbasis is omstreeks 16:00 gereël om 19 mense by die Noetsie-, een by Hamerkop- en 12 by die Vaalkrans-hut op te pik,” het Hoekstra gesê.

Die mense is omstreeks 17:00 opgepik. Almal is teen 19:00 by die Potberg-inligtingskantoor by hul voertuie afgelaai. Nooddienste is nie benodig nie, want niemand het seergekry nie.

Volgens Hoekstra is die pad van Potberg na Cupidoskraal en Noetsie heeltemal oorstroom.

“Dit reën sedert Sondag. Die watervlakke styg en die riviere kom af.”

Geldenhuys het gesê die toegangsroetes wat afdraai na Noetsie en Vaalkrans het weggespoel.

“Dit reën voortdurend in die gebied. Al ons noodeenhede is op bystand en ons monitor die situasie.”

Giel Hugo, weervoorspeller van Overberg Agri, het gesê nóg reën word verwag.

“Veral teen Donderdagnag, Vrydagnag en Sondagoggend kan swaar reënbuie val. Dit kan probleme skep. Die grond is versadig, die riviere gaan stadig styg en die rivierwalle kan oorstroom.”

Volgens Hugo kan dit teen die naweek gevaarlik raak om buite te wees weens donderbuie en swaar reën.

- Die Burger

No comments:

Post a Comment