Friday 26 October 2012

Bye 'n "kopseer" in Mosselbaai



Bye is tans baie bedrywig in die omgewing, maar byeverwydering sit nie in elkeen se broek nie.

MOSSELBAAI NUUS - 'n Groep fietsryers is onlangs tydens die eerste skof van die Bridge Cap Pioneer Trek-bergfietswedren tussen Oudtshoorn en Calitzdorp deur 'n swerm bye aangeval.

Na aanleiding hiervan het Riaan Bosch van 'Why Honey?' ook kommentaar gelewer oor bye-bedrywighede in Mosselbaai-omgewing en 'n paar nuttige wenke in die verband verskaf.

Volgens hom, is daar tans groot hoeveelhede bye in die omgewing wat amok maak, veral aangesien baie mense nie toegerus is met basiese wenke nie.

Mosselbaai is in 'n natuurlike bye-omgewing geleë. Danksy die heerlike reën van die afgelope tyd, is daar volop kos en is die bye uiters bedrywig.

Bye volg die natuur se siklus wat beteken dat hulle broei wanneer daar volop kos beskikbaar is. Die broeiseisoen bereik sy piek in die lente wanneer daar baie stuifmeel beskikbaar is. 'n Klein swerm sal uit ongeveer 10 000 bye bestaan en voordat afswerming plaasvind of 'n trekswerm ontstaan, sal daar tussen 50 000 - 60 000 bye wees.

"Mense is onder die indruk dat 'n trekswerm baie gevaarlik is, maar die teendeel is waar. Bye wat in 'n swerm trek se heuningmagies is vol en daarom is hulle glad nie aggresief nie, tensy daar met hulle gesukkel word," sê Riaan.

Volgens hom is die beste raad om onmiddellik pad te gee as jy naby 'n trekswerm of 'n byenes is. Moet onder geen omstandighede bye probeer verwilder of vergiftig nie, maar kontak iemand wat met bye werk en die verwydering kan doen.

Bye word aangetrek na plekke waar vantevore nesgemaak is.

Indien 'n swerm verwyder word, moet al die heuningkoeke en propolis verwyder word en die plek behoorlik behandel word om die reuk te verwyder. Plekke waar bye ingegaan het, in onder andere skoorstene en ventilasiegate moet dan deeglik geseël word met fyn sifdraad waarvan die gate nie groter is as 5mm nie.

"Ons het kliënte wat gereeld byeswerms in hul tuine of huise kry," verduidelik Riaan. "In sulke gevalle stel ons vangkorwe op wat spesiaal voorberei is om bye te lok. Die swerms trek dan altyd eerste in die vangkorwe in en nie in die huise nie.Ons het ongelooflike sukses hiermee en verhoed dus dat bye vergiftig hoef te word"

'n Noodnommer kan geskakel word vir veilige byeverwydering naamlik 082 201 0402 wat 24 uur per dag beantwoord word.

ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS

No comments:

Post a Comment