Saturday, 24 November 2012

Brande in Noord-Kaap woed voort


Drie helikopters word ingespan in ’n poging om die brand in die Koopmansfontein-omgewing in die Noord-Kaap onder beheer te bring.

“Hulle gooi water, maar dit is tans so warm en die wind waai, so baie van die water bereik op die ou-end nie die grond nie,” vertel mnr. Johan van Rensburg, hoof-uitvoerende beampte van Agri Noord-Kaap.

Altesaam 10 brandbestrydingsvoertuie van Postmansburg het ook Vrydag op die toneel opgedaag om te probeer help. Van Rensburg sê die weermag en die Polisie het ook by die pogings betrokke geraak. “Daar is vandag een hengse poging om die ding gestop te kry.”

Struktuur werk nie

Volgens Van Rensburg is hulle teleurgesteld oor hoe die brande wat sedert Dinsdag, 13 November, in die omgewing voorgekom het, hanteer is. “Die eerste 10 dae moes ons maar so op ons eie aansukkel. Die krisis het eers van eergister (28 November 2012) af behoorlik aandag by die betrokke strukture begin kry.”

“Hier is ’n struktuur gevestig wat nie werk nie. Dit help nie jy skep ’n struktuur, maar jy bemagtig hulle nie toerusting en vaardighede nie!”

Die skade wat geskat op meer as 100 000 ha se veld wat reeds in die omgewing afgebrand het. Van Rensburg sê die meeste plase wat aan die noordelike deel van die pad tussen Koopmansfontein en Danielskuil geleë is, het skade.

- Landbou.com

No comments:

Post a Comment