Sunday 11 November 2012

Leerder sterk aan na valskerm-val


Henco saam met sy ma, Connie.

MOSSELBAAI NUUS - Die 17-jarige Henco van Wyk, wat op 28 Oktober meer as 'n kilometer ver met sy valskerm naby die Mosselbaai Vliegveld geval het, sterk goed aan.

Volgens sy ma, Connie van Wyk, wat haar seun op die betrokke dag sien val het, is Henco se spoedige herstel 'n wonderwerk. Henco is in die Bayview Hospitaal behandel nadat hy frakture aan sy been en laerug opgedoen het.

Volgens sy pa, Henk, wat die eienaar van Skydive Mossel Bay is, het die aktiveringsmeganisme van die hoofvalskerm nie gewerk nie. Henco het sy reserwevalskerm ontplooi, maar dié het glo in die hoofvalskerm verstrengel geraak.

Henco is intussen oorgeplaas na 'n hospitaal in Kaapstad. Henco gaan, onder meer, 'n rugstut vir die volgende ses maande moet dra. Connie meen dis 'n wonderwerk dat haar seun lewe en geen breinskade of verlamming opgedoen het nie.

"Wat met Henco gebeur het, was deel van 'n Groter Plan, 'n geskenk en 'n tweede kans," sê Connie.

Henco gaan, na wat verneem word, na hy uit die hospitaal ontslaan is, by die huis aansterk.

ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS

No comments:

Post a Comment