Thursday 1 November 2012

Photos: Boom val man op vragmotor dood


Sien meer fotos HIER.


’n MAN is dood en sewentien beseer toe ’n boom gister in Bloemfontein afgebreek en op ’n bewegende vragmotor vol konstruksiewerkers geval het.

Nooddienswerkers het gistermiddag vergeefs probeer om een van die werkers van Wetbou Trust se lewe te red. Hy is egter op die toneel in Milnerweg dood verklaar.

Verskeie nooddienste insluitend ER24 en die Mangaung-brandweer-en-reddingsdiens was op die toneel.

Die beseerdes is almal in ambulanse onderskeidelik na die Pelonomi-hospitaal en Mediclinic Bloemfontein gebring. Een van die werkers was gisteraand in ’n kritieke toestand.

Die werkers was ná ’n dag se harde werk op ’n bouperseel in Bayswater op pad huis toe in die rigting van Bloemfontein, toe die ongeluk gebeur. Daar was sowat 20 werkers agter op die oop vragmotor.

Kealy Bubb, ’n ooggetuie wat in haar wit Mercedes-Benz agter die vragmotor gery het, sê ’n boom het meteens in die erge wind middeldeur geskeur. Die boom staan in ’n erf en het oor ’n muur tot in die straat geval. ’n Groot deel van die stam het op die mans voor haar se koppe geval.

“Dit was skielik net stof. Dit het gelyk asof die mense besig was om te sterf. Ek het vergeefs probeer om die nooddienste (10111) te bel.”

Sy vertel van die mense wat heel regs gesit het, kon afspring, maar die ander het die ergste daarvan afgekom.

Bubb self het in haar motor tussen die twee stompe tot stilstand gekom.

Sy is ongedeerd en haar motor is nie beskadig nie.

Hoewel die Bayswater-polisiekantoor daar naby is, was daar ná langer as ’n halfuur later nog geen polisiebeamptes op die toneel nie.

Die naam van die oorledene kon teen druktyd nie bekend gemaak word nie omdat sy familie nog nie in kennis gestel was nie.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment