Die vlieëniers gaan nie net water op vlamme gooi nie. Die vlamme van die verwoestende brand is só hoog en warm dat water onmiddellik verdamp.
Boonop raak water ál skaarser namate die plaasdamme leër raak. Dit is reeds die 27ste brand in November in die Noord-Kaap.
Working on Fire (WOF) se lugspan moes gister hul werk tydelik staak nadat een van die vliegtuie in ’n noodlanding verwoes is. Die vlieënier en sy passasier is lig beseer.
Kobus Gous, voorsitter van die Koopmansfontein-brandbeskermingsvereniging, sê die boere is moeg en moedeloos geveg.
Saayman Rossouw, provinsiale koördineerder van WOF, sê hulle kan nie meer die vlamme van voor af bestry nie. Dit is te hoog en te warm.
“Ons gaan nou brandbane maak aan die Kuruman-kant van die R373-grondpad. Die brand het gister verby Blikfontein voortgestorm.”
“Die vlamme het nou tande gekry. Dit is te warm en gevaarlik om van voor te werk. Boonop waai die wind ook van voor. Die rook waai reg in die oë van die brandbestryders.
“Twee vars WOF-spanne van Bloemfontein en Bethelehem het gister opgedaag. Die nuwe verkenningsvliegtuig het ook gisteraand aangekom om saam met ons helikopter te werk.”
Die weermag het twee Augusta- en een Oryx-helikopter van Bloemfontein gestuur. Nadat die weermaghelikopters gistermiddag geland het, is ’n dringende vergadering met die rampbeheerspan van die departement van landelike ontwikkeling belê.
Die boere-vereninging, Agri Noord-Kaap, polisie, weermag, WOF en EMS-nooddienste is almal betrokke.
Op die vergadering is daar besluit om vanoggend eerder brandbane voor die brand te maak.
Die lugmag het daarna ’n helikopter opgestuur vir ’n verkenningsvlug. Daar is gesoek na ’n geskikte stuk veld waar die gras kort is en daar baie water is om die voorbrande te maak.
Rossouw sê hulle het reeds gistermiddag hul spanne geskuif om vanoggend te begin met die voorbrande.
Sy Huey-helikoptervlieënier, Henning de Beer, het gisteroggend reeds vanaf 10:00 etlike duisende liters water uit plaasdamme op die vlamme gegooi. Hy moes sy werk staak nadat die WOF-verkenningsvliegtuig neergestort het.
’n Vreesaanjaende gesig uit ’n polisiehelikopter op een van die verwoestende brande in die Noord-Kaap. Foto: Verskaf deur SAPD
Die lugmag, polisie, boere, WOF en ander betrokkenes hou ’n noodvergadering met die departement van landelike ontwikkeling om die volgende stappe te bespreek om die brand onder beheer te bring.Foto: Emile Hendricks
Die weermaghelikopter styg gistermiddag by Koopmansfontein op om ’n verkenningsvlug te gaan doen. Foto: Emile Hendricks
Die swartgebrande aarde met die verterende vlamme op die agtergrond in die Noord-Kaap soos dit gister uit die lug gelyk het. Foto: Verskaf deur SAPS
- Volksblad
No comments:
Post a Comment