Saturday 29 December 2012

SAWDOS Vakansie Waarskuwing 2012/2013: Bloed nou uiters kritiek

TERWYL die feestyd-padsterftesyfer dié van verlede jaar inhaal, het die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) minder as die helfte van verlede jaar se bloedvoorraad om lewens mee te red.

Die bloeddiens het gister gesê hy het oor die land heen net sowat twee dae se bloedvoorraad oor.

Daar moet gewoonlik vyf dae se bloed in voorraad wees om in die vraag te voorsien. Verlede jaar was daar genoeg bloed.

In die Vrystaat was gister minder as twee dae se bloedvoorraad oor en die Noord-Kaap het slegs vir ’n dag bloed gehad.

Dr. Loyiso Mpuntsha, uitvoerende hoof van die bloeddiens, het gesê dit is ’n krisis in die lig van die baie ongelukke.

Die bloeddiens sukkel om voor te bly, het sy gesê.

“Die slagting op die paaie het ’n groot impak op ons bloedvoorraad.

“Deur die jaar gee ons 4% van die voorraad aan trauma-eenhede. Oor feestye spring dit tot ongeveer 20% en dit wil lyk asof daar dié jaar selfs ’n groter vraag is.”

Skenkerbloed word in drie dele verdeel – bloedplaatjies, wat net 5 dae lank hou; rooibloedselle, wat 35 dae lank hou, en bloedplasma, wat vir ’n langer tydperk gesond bly.

“Ons is self verbaas oor die uitsonderlike hoë vraag na bloed vanjaar. Dit is problematies dat die gereelde skenkers nou almal met vakansie is. Ons kort dringend bloed.”

Meer as 1 068 mense het sedert 1 Desember op die land se paaie gesterf, het Ashref Ismail, woordvoerder van die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC), gesê.

Altesaam 1 771 mense is tussen 1 Desember verlede jaar en 10 Januarie vanjaar op die paaie dood.

Druk op die land se bloedvoorraad kan oor die naweek verder toeneem namate talle vakansiegangers van hul bestemmings huiswaarts begin keer.

Verkeersdruk op hoofroetes sal na verwagting tot nog ernstige ongelukke lei.

Daarmee saam is bloed ook nodig vir ander pasiënte, soos vroue wat geboorte skenk en kankerlyers, het Mpuntsha gesê.

Sy het ’n dringende beroep op mense gedoen om by hul naaste bloedbank uit te kom en bloed te skenk.

“Skenk gereeld bloed, selfs al is julle met vakansie op ander dorpe. Jóú skenking kan tot drie mense se lewe red.”

Mense wat wil bloed skenk, kan www.sanbs.org.za besoek of 0800-119-031 bel vir meer inligting oor hul naaste bloedbank.

• Mpuntsha het ook gesê die SANBD het pas ’n beleid gefinaliseer wat die fokus op ’n skenker se seksuele oriëntasie verskuif na die fokus op onveilige seks vir skenkers in die algemeen.

Brittanje en Kanada het vroeër vanjaar ’n soortgelyke beleidhersiening aangekondig.

Bloedbanke oor die wêreld heen het in die afgelope twee dekades deurgeloop onder skerp kritiek weens hul onwrikbare skenkingsverbod op homoseksuele mans.

Die SANBD het vroeër jare ’n streng skenkingsverbod gehad op homoseksuele mans wat in 2009 verslap is ná 6 maande van selibaat wees.

In lande soos Australië, Swede en Japan moet homoseksuele mans ’n jaar lank selibaat bly voordat hulle mag bloedskenk, berig die BBC.

“Internasionale navorsing het bewys mans wat met mans seks het, is meer geneig tot anale seks, wat die groep die hoogste risiko gee om seksueel oordraagbare siektes deur hul bloed te versprei,” het Mpuntsha gesê.

“Die beleid is aan die departement van gesondheid voorgelê vir kommentaar, wat beteken ons kan in 2013 reeds ’n klemverskuiwing hê.”

- Volksblad

No comments:

Post a Comment