Friday 25 January 2013

Brand eis ‘dierbare man’ van Clanwilliam

STELLENBOSCH. – ’n Man van Clanwilliam het sy lewe op tragiese wyse verloor in die wegholbrand wat sedert verlede Donderdag in die Sederberge woed.

Chris Fourie (59), ’n toesighouer vir ’n konstruksiemaatskappy, was Woensdag omstreeks 16:00 op pad terug na dié dorp met ’n groep bouers wat hy gaan oplaai het naby Vleiplaas in die Pakhuisberg, waar hulle ’n huis bou.

Reuse-vlamme het egter die R364 waarlangs hy gery het versper en hy moes met die bakkie stilhou. Twee voertuie voor hom het deur die vlamme gery, maar Fourie was glo bang die werkers agterop die bakkie kry seer, het ’n vriendin na aan die familie gister vertel.

“Toe hy stilhou, het die werkers van die bakkie afgespring en weggehardloop,” het sy gesê. “Hy het toe glo ook uitgespring en gehardloop. Ons weet nie wat daarna gebeur het nie, maar hy het net verdwyn.”

’n Groep van sowat 30 boere uit die omgewing het deur die nag na hom gesoek en gister omstreeks 09:00 op sy lyk in die veld afgekom.

Die presiese oorsaak van sy dood sal in ’n lykskouing vasgestel kan word, maar kol. André Traut, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig hy is in die brand dood.

Fourie was voorheen die Nedbank-bestuurder op die dorp en ’n geliefde lid van die Clanwilliam-gemeenskap, het die vriendin gesê.

“Hy was ’n dierbare man en die goedheid self. Dit is ’n absolute verlies vir die gemeenskap,” het sy gesê.

Fourie se vrou, Izaan, en hul twee kinders, Sjarné (23) en Tiaan (19), albei studente aan die Universiteit Stellenbosch, wou nie gister met die media praat nie.

Geen brandbestryders is, soos vroeër berig is, dood nie.

Altesaam 150 mense moes egter sedert die brand uitgebreek het hul huise en gasteplase ontruim.

Volgens Bertus Senekal, brandweerhoof van die Weskus-distriksmunisipaliteit, het die brand ontstaan toe weerlig die berg by Heuningvlei in die rigting van Wuppertal getref het.

Die vlamme het sedertdien tot aan die voorkant van die berg by Clanwilliam gehardloop.

Vyf huise en sowat 24000ha fynbos het in die slag gebly.

Meer as honderd brandbestryders van die Weskus-distriksmunisipaliteit, Werk met Vuur en Cape- Nature het die afgelope week gespook om die brand onder beheer te bring.

Die hulp van verskeie vliegtuie en helikopters is ook ingeroep.

Die brand was teen gistermiddag grootliks geblus, behalwe in die Biedouwvallei, waar die wind die vlamme aangeblaas het.

- Die Burger

No comments:

Post a Comment