Wednesday 30 January 2013

Brand in Franschhoek-gebied woed steeds

Kaapstad – Brandslaners probeer steeds om 'n wegholbrand in die Wemmershoekberge tussen Franschhoek en die Paarl onder beheer te bring, berig die SABC.

Talle brandslaners asook vier helikopters het Dinsdagaand die vlamme in hoë temperature, sterk wind en swak sigbaarheid bestry. Meer as 7 000 hektaar landbougrond en indringerplantegroei is sedert Sondag verwoes.

Roysten Harris, stasiebevelvoerder van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se brandweerdiens, het Dinsdagaand gesê die brand beweeg in die rigting van die Du Toitskloofpas naby die Paarl.

"Die brand is steeds buite beheer. Ons gaan ons spanne strategies stel om die brand te bestry. Ons sal ons helikopters so laat as moontlik gebruik om eiendom en lewens te beskerm."

Honderde lede van Werk met Vuur is Dinsdag na die Boland ontplooi, waar 'n wegholbrand eiendomme in Franschhoek en die Paarl bedreig.

Rampbestuurbeamptes in die Wes-Kaap het gesê hulle sal slegs inwoners in die Paarl vra om te ontruim indien dit absoluut nodig is.

"Dit is duidelik 'n baie hoërisiko-dorp. So inwoners moet ag slaan op die waarskuwings, maar in die stadium is daar nie 'n direkte versoek om die dorp te ontruim nie."

– Nuus24

No comments:

Post a Comment