Friday 18 January 2013

Lugmag-vliegtuig land hard op Tempe


Die Casa 212 van die lugmag lê skuins langs die aanloopbaan van die Tempe-lughawe nadat dit hard gelandi het. Foto:Charl Devenish

'n LUGMAG-VLIEGTUIG het gisteroggend ’n harde landing op die Tempe-lughawe in Bloemfontein gehad en op die sy en linkervlerk in die gras langs die aanloopbaan tot stilstand gekom.

Die vyf bemanningslede aan boord van die Casa 212-vliegtuig is ongedeerd.

Lt.kol. Ronald Maseko, lugmag-woordvoerder, het gesê die vliegtuig het deelgeneem aan ’n oefening vir valskermsoldate.

Rufus Botha, wat sowat 500 meter van die lughawe af bly, sê die vliegtuig het met ’n harde slag geland.

“Dit het amper geklink soos ’n vragmotorband wat bars. Dit was ’n ongelooflike ontploffing. Die vliegtuig het na die linkerkant oorgeval en nie lank daarna nie, toe kom ouens uit die vliegtuig gestorm, so asof hulle gedink het dit gaan ontplof.”

Maseko sê ’n ondersoekspan is reeds van Pretoria na Bloemfontein gestuur om die ongeluk te ondersoek.

*** Einde verlede jaar was twee vliegtuie van die lugmag ook in vliegongelukke betrokke en 11 lugmaglede het hul lewe verloor.

’n C47TP-Dakota het op 5 Desember in gure weer by Giant’s Castle in die Drakensberge neergestort en die lewe van 11 lugmaglede geëis.

Nog ’n Dakota het byna ’n maand vroeër van ’n aanloopbaan by Mthatha geloop.

Nie een van die 16 passasiers of die bemanning is beseer nie.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment