Monday 28 January 2013

Sterk suidooster veroorsaak kragonderbrekings in die Kaapse Skiereiland


19h00 SAST - Die kragtoevoer na Athlone op die Kaapse Skiereiland is herstel nadat sterk winde oor die gebied kraglyne beskadig het. 'n Woordvoerder vir Kaapstad se Rampbestuur, Wilfred Solomons-Johannes, sê 'n paar oorhoofse kabels is oornag afgewaai wat tot kragonderbrekings in dele van Athlone gelei het. Die Suid-Afrikaanse Weerkantoor het intussen gewaarsku dat stormsterk winde in die volgende paar dae van tot 40 kilometer per uur tussen Kaappunt en Kaap Agulhas sowel as oor die Skiereiland verwag kan word.

09H00 SAST - 'n Sterk suidooster in die Kaapse Skiereiland het tot talle kragonderbrekings gelei. Veral dele van Athlone op die Kaapse Vlakte word geraak waar kragpale omgewaai het. 'n Woordvoerder vir Kaapstad Rampbestuur, Wilfred Solomons-Johannes, sê tegnici is besig om aan die probleem te werk. Die wind wat die naweek opgesteek het, het ook gelei tot die sluiting van die Tafelberg Kabelspoor. 'n Woordvoerder, Sabine Lehman, sê die kabelspoor sal vandag steeds gesluit wees weens onveilige weerstoestande. Die veerboot na Robbeneiland sal egter sy werksaamhede hervat nadat dit gistermiddag weens die sterk wind nie kon vertrek nie.

- RSG Nuus

No comments:

Post a Comment