Tuesday 19 March 2013

Vloot ‘doof in een oor’ ná koperdiefstal

2013-03-17 22:53

Die Burger

Jan-Jan Joubert

KAAPSTAD. – Koperdiefstal by die Suid-Afrikaanse Vloot se Silwermyn-kommunikasiesentrum is so erg dat dit nie meer die vloot se radiokommunikasie kan rugsteun nie.

Die vloot het twee primêre kommunikasiesentrums – die hoofstasie by Silwermyn en ’n bystandstasie in Durban, wat nou gebruik word.

Met Silwermyn buite aksie is die vloot nou “doof in een oor”, het David Maynier, DA-LP, gister gesê.

Maynier het ’n dringende beroep gedoen op Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, om in te gryp, maar weermagwoordvoerders het aan Sapa gesê hulle sal eers later in die week navrae beantwoord.

Silwermyn is ’n nasionale sleutelpunt, maar dit blyk daar is al langer as ’n jaar gelede gate in die heining gesny, maar dit is nooit herstel nie.

Daar is na verneem word twee versamelings antennas by Silwermyn – een hoër op teen die berg en een laer af. Dit lyk nie of al die antennas op militêre grond geleë is nie. Die boonste versameling het 51 antennas, wat blykbaar nou almal buite aksie is.

Volgens Maynier is meer as 5km koperkabels die afgelope jaar by Silwermyn gesteel, met geen doeltreffende optrede deur die militêre polisie nie, ten spyte van vermoedens dat weermaglede self betrokke mag wees.

Pikkie Greeff, woordvoerder van die weermagvakbond Sandu, het by navraag bevestig Silwermyn kan glad nie meer sy kommunikasiefunksie verrig nie.

Maynier het gevra dat Mapisa-Nqakula dadelik optree deur eerstens die vervalle en gebreekte heining te vervang.

Sy moet ook verseker dat radio-kommunikasie herstel word. ’n Behoorlike strafregtelike ondersoek is nodig sodat vasgestel kan word hoe dit moontlik is dat die nasionale veiligheid so ondermyn en die land so in die verleentheid gestel kan word.

No comments:

Post a Comment