Thursday 12 January 2012

Brand in Boland is grootste in tien jaar

Die wind en weer laat brandbestryders in die Boland ná meer as vier dae steeds bontstaan.

Gister het nóg ’n deel van die Hawekwaberge by Wolseley gebrand.

Beamptes moes spring om die vlamme te keer nadat dit in die versengende hitte van 36°C weer opgevlam het.

Dit brand sedert Saterdagaand in die gebied en beamptes veg om die beurt teen die vlamme. Meer as 150 beamptes en vier helikopters is al gebruik. Dit is die grootste brand vanjaar in die gebied en ook die grootste een die afgelope tien jaar.

Volgens mnr. Roysten Harris, stasiebevelvoerder van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se brandweerdienste, het van die brandweerpersoneel gister ’n noue ontkoming met die vlamme gehad, maar niks ernstigs het gebeur nie.

“Hulle kon die vlamme onder beheer kry. Dit lyk tans ’n bietjie beter hier. Die res van die brand (in die plantasie) word gemonitor sodat dit nie weer kan opvlam nie,” het hy gesê.

Net voor dit weer begin brand het, is ’n verklaring uitgestuur wat lui dat die brand onder beheer is.

Me. Leanne McKrill, woordvoerder van Werk met Vuur, het gesê die brand het gistermiddag weer by Suurvlak in die denneplantasie opgevlam.

“Twee helikopters gooi water op die vlamme, terwyl ’n vastevlerkvliegtuig kyk waar dit oral brand.

“Vroeër vandag (gister) was die brand onder beheer, maar dit het weer opgevlam as gevolg van die hitte en wind.”

Laat Dinsdagmiddag het die brand in die rigting van die Nuwekloofpas versprei. Brandweerbeamptes is toe na die gebied gestuur en hulle kon die brand onder beheer bring.

Duisende hektaar veld is reeds deur die brand verwoes en die gebied waar dit brand, strek oor 40km.

- Die Burger

No comments:

Post a Comment