Thursday 12 January 2012

Springkane saai verwoesting in Noord Kaap

’n Groot swerm voetgangers op die N10 tussen Prieska en Groblershoop. Foto: Stoffel Willemse

KIMBERLEY. – Noord-Kaapse plase en dele van Namibië loop deur onder ’n bruinsprinkaan-plaag.

Verskeie motoriste het swerms van duisende voetgangers op die N10-roete tussen Prieska en Marydale aangetref.

Mnr. Johan van Rensburg, president van Agri-Noord-Kaap, sê die provinsie gaan gebuk onder ’n sprinkaanplaag.

’n Amptenaar van die departement van landbou sê die bruinsprinkaan (Locustana pardalina) broei uit ná reën.

Die gebiede in en om Prieska en Groblershoop het die laaste paar weke goeie reën gehad.

“Die wyfie kan tot 380 eiers lê. Die toestande moet egter gunstig wees. Dit moet reeds voor die reën gelê wees.”

Die insekte broei dan in hul duisende uit en “vreet ’n pad deur boere se weiding en landerye”.

Studente en plaaslike landboukenners word deur die departement betaal om die sprinkane met gif te beheer.

Die departement het twee depots op De Aar en Upington.

“Die gif word net soggens vroeg, of wanneer die sprinkane bymekaar op die grond sit, gespuit.

“Sodoende word min gif op ander organismes en plante gespuit. In uiterste gevalle word die sprinkane met vliegtuie bespuit.

“Vanjaar het die sprinkane oor die vakansie uitgebroei. Daar was min mense om dit te rapporteer en te bespuit. Daarom sien motoriste meer sprinkane.”

Bruinsprinkane het ook verlede jaar ná goeie reën uitgebroei.

Boere sukkel tans ook met riviermuggies wat naby riviere en water voorkom.

Die muggies steek diere en vee op vogtige, sagte plekke om bloed te kan suig.

Diere wat gesteek word, word swakker en hul kondisie neem dan so af dat hulle nie kan paar nie.

Dit lei tot groot skade vir veeboere.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment