Thursday, 19 January 2012

Buffel dood arts

’n BEKENDE en geliefde dokter van Pretoria en wildboer van die Vrystaat is gisteroggend voor sy seun dood nadat hy op sy wildplaas by Boshof deur een van sy buffels aangeval is.

Dr. Willie Cronjé (44), met ’n praktyk in Queenswood, het graag tyd op sy plaas Uitkyk, ongeveer 20km buite Boshof, deurgebring.

Cronjé en sy seun, Willem (18), was gister op die plaas saam met ’n veearts wat twee buffels verdoof het om bloed te trek voordat dié diere verkoop sou word.

’n Familievriend van Pretoria, die skrywer en rubriekskrywer Blou Willem Theron, het gistermiddag laat gesê ’n buffel het glo pas nadat dit in die boma wakker geword het op Cronjé afgestorm en hom aangeval.

Cronjé, wat in die boma dood is, wou glo ’n hek in die boma sluit om te keer dat die buffel in ’n verkeerde drukgang inbeweeg.

“Hy was ’n passievolle wildboer wat net ’n hek wou sluit en toe in die proses sy lewe verloor het.”

Vriende van Cronjé het sy bedroefde en geskokte seun gistermiddag laat tot op Bothaville gebring, waar familie hom van daar huis toe gebring het.

Theron sê Cronjé se bakkie en van sy persoonlike besittings is ook deur die familie hier afgehaal.

“Dis baie swaar en hartseer vir die gesin.”

Cronjé was ook ’n bekende en gewilde dokter in Polokwane voordat hy en sy gesin twee jaar gelede na Pretoria verhuis het, sê The-ron.

“Ons het ’n groot man verloor.”

Cronjé, wat een van ses kinders was, word ook oorleef deur sy vrou, Liesl, ’n dogter, Elisma (16), en sy ouers, mnr. Willie en Cora Cronjé van Carolina.

’n Geregtelike doodsondersoek word gehou, sê kapt. Harry Nagel van die Vrystaatse polisie.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment