Wednesday 4 January 2012

Tweejarige verbrand erg by braai

Johannesbug – ’n Tweejarige meisie van Lephalale (Ellisras) het 80% derdegraadse brandwonde oor haar hele lyf opgedoen toe ’n bottel met ’n vuuraansteekmiddel in haar pa se hande ontplof het.

“My prinses is so sterk, ek wens ek het haar krag gehad,” het Anice Barnard Kruger, ma van die tweejarige Isabella, op haar Facebook-blad geskryf.

Die meisie was gister in ’n bedenklike, maar bestendige toestand in die brandeenheid van die Garden City-kliniek in Johannesburg.

Erwin Kruger (39), haar pa, se hande is erg gebrand. Hy word in dieselfde hospitaal behandel. Die Krugers is bekend in Lephalale en besit die Friesplaas-melkery. Kruger is ook ’n professionele jagter.

Die fratsongeluk het Oujaarsaand kort voor 19:00 gebeur.

Carla Kruger, Isabella se ouma, het gister vertel haar seun was Saterdagaand besig om ’n braaivleisvuur aan te steek. Hy het Firelighting Gel aan die hout gesmeer.

“Ons gebruik dit al jare om mee vuur te maak.”

Die plastiekbottel was byna leeg. Dit het moontlik gas opgebou en toe weens die hitte van die vlamme in mnr. Kruger se hande ontplof.

Klein Isabella het in die tuin gespeel, sowat 2?m van waar haar pa gestaan het. Die slag van die ontploffing was so erg dat die vlamme tot by Isabella “uitgebol” het.

Barnard Kruger was in die huis. “Dit het soos ’n geweerskoot geklink. Ek het eers gedink iemand is dalk geskiet.”

Sy het uit die huis gehardloop. “Ek het my dogtertjie in vlamme op die gras sien lê.” Sy het haar hemp uitgetrek en op Isabella gegooi.

Carla Kruger het haar seun hoor skreeu en ook by die huis uitgehardloop.

Sy het ’n deurmatjie gegryp en die vlamme op hom doodgedruk.

Barnard Kruger en haar skoonouers het met haar man en dogtertjie na die provinsiale hospitaal in Lephalale gejaag. Hulle het Isabella in ’n kombers toegedraai.

Die egpaar woon sowat 2 km buite die dorp op die Stockpoort-pad.

“My dogtertjie het vandat dit gebeur het nog nie een keer gehuil nie.”

Albei is later per ambulans Johannesburg toe geneem.

Kruger het tweedegraadse brandwonde aan sy hande opgedoen.

Isabella is aan ’n ventilator in die brandeenheid se hoësorg-afdeling gekoppel.

“Haar hart kry swaar. Sy is onder sterk verdowing,” het haar ouma gistermiddag gesê.

Haar ma het gistermiddag gesê: “Dit lyk op dié tydstip glad nie goed nie. Ek probeer sterk wees vir my familie.”

Volgens haar verwyt haar man homself oor wat gebeur het.

Mnr. Kruger se wonde herstel goed. Die egpaar het ook ’n ses maande oue seuntjie, Arno.

- Beeld

No comments:

Post a Comment