Thursday 12 January 2012

Wetsontwerp oor weerwaarskuwings is ‘lagwekkend’

PRETORIA. – Wil jy jou kind of vriend teen ’n hewige reën- of windstorm waarsku? Pas op. As die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAW) dit nie skriftelik goedgekeur het nie, kan dit jou tot R5 miljoen uit die sak jaag. Jy kan selfs in die tronk beland as jy dié waarskuwing sonder die SAW se toestemming “uitreik”.

Dit is een van die “drakoniese” voorstelle in die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAW) se wysigingswetsontwerp.

Mnr. Gareth Morgan, DA-woordvoerder oor omgewingsake, het gister gesê dié deel van die voorgestelde wysigingswetsontwerp is “lagwekkend” en ontmagtig mense om hul medemens teen uiterste weersomstandighede te waarsku. As dié wetsontwerp in die huidige vorm deur die parlement goedgekeur word, sal dit beteken alle waarskuwings oor weersomstandighede en selfs voorvalle van ernstige lugbesoedeling moet eers skriftelik deur die SAW goedgekeur word.

Die voorgestelde wet maak vir die eerste keer voorsiening vir ’n afdeling waarin strawwe uiteengesit word vir vals of misleidende inligting én inligting wat nie vooraf met die SAW uitgeklaar is nie. Strawwe vir misleidende inligting sluit ’n boete van R5 miljoen of tronkstraf van vyf jaar in.

Morgan het gesê dié afdeling in die wetsontwerp wat strafmaat-reëls insluit, moet geskrap word.

Hy het bygevoeg dit gaan die lewe vir nie-regeringsorganisasies (NRO’s) wat in nywerheidsgebiede soos Secunda en Sasolburg met aspekte van lugbesoedeling werk, feitlik onmoontlik maak.

“Dis belaglik om van hulle te verwag om eers die SAW se toestemming te kry voordat hulle inwoners van woongebiede mag waarsku teen voorvalle van ernstige lugbesoedeling.”

Teen die tyd wat “’n lomp burokratiese instelling”, soos die SAW, toestemming gee vir die weerwaarskuwing – moontlik eers oor twee of drie dae later – is die skade reeds gedoen en die reënstorm verby. As dié wetsontwerp onveranderd goedgekeur word, gaan die SAW ’n monopolie kry oor alle weersake, tot die nadeel van die gewone landsburger, het Morgan gesê.

Mnr. Albi Modise, hoofdirekteur van kommunikasie by die departement van omgewingsake, het gesê die wetsontwerp het ten doel om die publiek teen vals inligting oor weersake en lugbesoedeling te beskerm. “Sulke inligting kan paniek veroorsaak. Dit kan selfs daartoe lei dat mense hul huise onnodig ontruim. As dié wet goedgekeur is, sal dit die regering daartoe in staat stel om op te tree teen diegene wat bewustelik of onbewustelik valse en misleidende inligting oor weersake versprei.

Morgan het gesê die wetsontwerp het baie gebreke en gee byvoorbeeld nie ’n definisie van “uiterste weersomstandighede nie”, terwyl dié verskynsel in die lig van klimaatsverandering meer dikwels gaan voorkom.

In die wetsontwerp word die SAW ook gevrywaar van moontlike skade wat kan volg weens verkeerde weervoorspellings.

Belanghebbendes kan tot vandag kommentaar op die wetsontwerp lewer. Openbare verhore oor die wetsontwerp word op 17 en 18 Januarie gehou.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment