Monday 13 February 2012

Student verdrink op Christen-kamp

'n Groep van Intentional Living se huismaats tydens ’n projek verlede jaar toe hulle probeer het om met R10 per persoon per dag te leef. Mnr. Victor Boshomane is tweede van links. Die ander is mnre. Ryno Meyer, Jaco Smit, Gerhard van Staden, Mzamo Nkosi en Anru Liebenberg. Foto: Lisa Hnatowicz

'n Pretoriase gemeenskap van studente en jong werkendes is dié naweek geruk deur die verdrinking van een van hul maats op ’n gesamentlike kamp.

Mnr. Victor Boshomane (26), ’n B.Com-student aan Unisa, het in ’n poel onder ’n waterval naby Graskop in Mpumalanga verdrink.

Boshomane het begin verlede jaar ingeskakel by Intentional Living, ’n groep jong Christene wat doelbewus probeer om eenvoudig te leef en uit te reik na armes in die gemeenskap.

Vanjaar se deelnemers aan die projek wou hul jaar begin met ’n kampnaweek op die plaas van een van die studente se ouers.

Saterdagmiddag het hulle na ’n waterval in ’n plantasie daar naby gery.

Die meeste lede van die groep het besluit om te gaan swem en van poel tot poel stroomaf beweeg.

Boshomane, wat nie kon swem nie, het aanvanklik saam met nog iemand langs die water bly sit en gesels.

Later, toe die ander al ’n ent verder in die water was, het Boshomane besluit om ook te gaan swem.

Hy is die vlak water in, maar het gegly en in die diep water in die stroom onder die waterval beland.

Toe mnre. Muzi en Mzamo Nkosi sien Boshomane is in die moeilikheid, het hulle om hulp geroep en mnre. E.J. Leach en Jaco Smit, twee teologiestudente, het ingeduik om hom te help.

Die water was egter troebel en hulle kon nie sien waar hy was nie.

Ná etlike minute het hulle hom gevind en aan wal gebring. Van die ander studente het noodhulp toegepas, maar kon hom nie bybring nie.

Die groep het met hom in ’n bakkie na die naaste kliniek op Graskop gejaag. Dié kliniek was toe en hulle het na die hospitaal in Sabie gejaag. Daar is hy dood verklaar.

Agt van die jongmense wat verlede jaar saam met Boshomane deel van Intentional Living was, het Saterdagaand Boshomane se geskokte familie in Ivory Park, Midrand, besoek om simpatie te betoon.

Mnr. William Rampele, ’n neef van Boshomane, het gister gesê hulle beplan om hom Saterdag te begrawe.

Die studente op die kamp sou gistermiddag terugkeer na Pretoria en het beplan om Bo­shomane se familie gisteraand te besoek.

- Die Beeld

No comments:

Post a Comment