Friday, 24 February 2012

Vlieënier steeds in hospitaal

MOSSELBAAI NUUS - Die man wat op 13 Februarie teen kragdrade by Klein-Brakrivier met sy mikroligte vliegtuig vasgevlieg het, mnr Japie Theron, het, benewens gekraakte rugwerwels, 'n long wat platgeval het en 'n skeur in sy slagaar wat inwendige bloeding veroorsaak het.

Hy is van die Mosselbaai Provinsiale hospitaal eers na die George Provinsiale Hospitaal en daarna na Tygerberg Hospitaal se hoësorgeenheid oorgeplaas.

Tydens die Mossel Bay Advertiser se onderhoud met Theron het hy gewag op uitslae van 'n skandering. Indien die skandering wys dat die slagaar nie met konserwatiewe behandeling herstel nie, sal dokters moontlik eers daaraan moet werk voordat sy rug geopereer kan word. Sy long het intussen herstel.

"Ek lê soos 'n baksteen in 'n bed. Ek kan glad nie beweeg nie en hulle moet alles vir my doen," het Theron gesê. "Dis net genade dat ek nog aan die gang is," sê hy.

Die vrou wat saam met hom gevlieg het, me. Sanet Horwitz, is in die Life Bay View Hospitaal in Mosselbaai opgeneem met kopbeserings en 'n ernstige beenbreuk. Teen druktyd sou sy, na wat verneem word, ontslaan word.

Die Burgerlugvaartowerheid ondersoek tans die voorval.

- Mossel Bay Advertiser

No comments:

Post a Comment