Saturday 9 June 2012

Brand in huis eis Pretoria-man



Familielede en vriende moes gisteroggend ’n vrou keer wat in die huis wou inhardloop waar haar man pas doodgebrand het.

Efie Botha het gister histeries en onophoudelik gehuil buite haar huis in Ninapark, Pretoria, waar haar man, Pieter Botha, doodgebrand het. Sy was by die werk toe die brand begin het.

Mariana Bouwer, een van die eerste mense op die toneel, het omstreeks 11:00 verby die Bothas se huis gery en rook uit ’n woonwa buite die motorhuis sien trek.

“Ek het my toeter onophoudelik gedruk en gehoop iemand kom uit die huis uit,” het Bouwer gesê.

Toe niemand uit die huis kom nie, het Bouwer die brandweer ontbied en uit haar motor geklim om die hek te probeer oopmaak.

“Die bure het intussen uitgekom en ’n man het oor die huis se heining geklim om die twee honde wat uit die huis gehardloop het uit die erf te probeer kry.

“Die brand het so vinnig versprei. Binne nege minute was die hele huis aan die brand. As ek geweet het daar was iemand in die huis, sou ek meer probeer doen het.”

Na verneem word, is Botha se verkoolde lyk in die badkamer gevind saam met sy kat, wat versmoor het.

Willie Dry, leierbrandweerman van die Tshwane-brandweer, het gesê toe hulle by die huis aankom, was die hekke en die huis gesluit.

“Ons is nie seker wat die oorsaak van die brand is nie,” het Dry gesê.

Amanda Burger, die Bothas se buurvrou, het gesê sy het aanvanklik gedink haar huis is aan die brand. Toe sy sien dit is die bure se huis, het sy en ander mense die vlamme met hul tuinslange probeer blus.

Tiro Monnakgotla, wat oorkant die Bothas bly, het gesê Botha was ’n baie goeie en rustige mens. “Hy was soggens ons alarm. Hy het altyd vroeg met sy twee honde gaan stap.”

Monnakgotla het gesê hulle het Botha “Shakes” genoem omdat sy bene altyd gebewe het as hy hardloop. “Hy was lief vir hardloop. Ons het ’n wonderlike man verloor.”

Die polisie kon gistermiddag laat nog nie die voorval bevestig nie.

- Beeld

No comments:

Post a Comment