Monday 11 June 2012

Brande saai verwoesting in Mpumalanga, Kwazulu Natal

Johannesburg – Brande wat deur sterk winde aangewakker word, het groot stukke veld in Mpumalanga en KwaZulu-Natal verwoes, het Working on Fire (WoF) Sondag gesê.

In Mpumalanga het WoF bygestaan met die bestryding van 19 brande tussen Vrydag en Sondag. In dieselfde periode het WoF bygestaan met die bestryding van ‘n verdere 16 brande in KwaZulu-Natal en ses in Limpopo.

Working on Fire het ook ‘n beroep op mense gedoen om bewus te wees van die risiko’s daaraan verbonde om vure aan te steek.

Trevor Wilson, bestuurder van Mpumalanga se Umbrella Fire Protection Association en algemene bestuurder van WoF in die provinsie, het gesê hy is “absoluut desperaat” dat mense so onbewus kan wees oor die risiko’s, wat dikwels katastrofies eindig.

“Ons is in ernstige moeilikheid, ons damme is net 20 persent vol en die veld is so droog,” het hy gesê.

“Daar is nie eens genoeg water vir ons om ons helikopters en vliegtuie te gebruik om die brande te blus nie.”

Warburton en Piet Retief is die gebiede in die provinsie wat die ergste geraak is.

In Limpopo is 10 000 hektaar se plantegroei verbrand in Soekmekaar, het die provinsiale koördineerder, Alwyn Kruger, gesê.

“Daar was ‘n uiters sterk wind wat in een stadium teen 64 km/h gewaai het,” het hy gesê.

“Dit het so skielik gebeur. Ons het nog gematigde weer geniet toe hierdie hoë winde, voor ‘n massiewe koue front, begin waai het.”

Al WoF se brandbestrydingspanne is op hoë bewustheid geplaas, het hy gesê.

In KwaZulu-Natal het die provinsiale koördineerder van WoF, Tracey Carter, gesê die gebiede wat die ergste geraak is, is Zoeloeland, met die Hluhluwe-wildreservaat wat erg deurgeloop het.

“In een stadium was daar twee brande wat gelyk gewoed het in Hluhluwe,” het sy gesê.

“Ek wens mense wat sonder sorg vure aansteek wil besef dat hulle lewens in gevaar stel. Om ‘n brand te bestry in hoë winde is uiters gevaarlik.”

Weersomstandighede het laat Saterdag beter geraak, maar die droë plantegroei en die gebrek aan reën beteken die brandrisiko is steeds hoog, het sy gesê.

- SAPA/Nuus24

No comments:

Post a Comment