Monday 11 June 2012

Man gestraf nadat kind in motor gelos is

WELKOM. – ’n Werklose man van Lesotho wat sy vriendin se vierjarige dogtertjie ure lank in die bloedige son in ’n motor buite ’n winkelsentrum hier toegesluit het, is opgeskorte tronkstraf van vyf jaar opgelê.

Mozisi Moses Mtetwa (19) is op ’n aanklag van kindermishandeling skuldig bevind. Sy naam word ook in die nasionale kinderbeskermingsregister opgeteken synde ’n mens te wees wat ’n kind of kinders in gevaar kan stel of gestel het.

Die temperatuur in die toe motor, waarin die kind met net ’n pakkie koekies gelaat is, het waarskynlik binne net 40 minute opgeskiet tot meer as 60°Celsius.

Mtetwa en ’n vriend, wat saam met hom was toe hulle gaan skoene koop en die kind in die motor gelos het, is in Januarie in hegtenis geneem nadat twee karwagte die ontwaterde kind in die motor gesien het.

Die polisie is ontbied en die kind is deur Anneli Snoer, paramedikus van Netcare911, uit die motor gered nadat sy ’n ruit met ’n suurstofsilinder uitgeslaan het.

Die klagte teen Mtetwa se vriend is teruggetrek.

Die verhoor het telkens groot opspraak verwek, veral toe die twee mans direk ná hul inhegtenisneming deur die polisie vrygelaat is. Dit is glo gedoen omdat die ma nie met vervolging wou voortgaan nie.

Mev. Charmaine Labuschagne, beheeraanklaer in die hof vir seksuele misdade, het daarvan te hore gekom en dadelik ’n ondersoek na die vrylating geëis.

Die ma het geen sê in die vervolging nie omdat die staat in alle gevalle waar kinders die slagoffers is, die aanklaer is.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment