Saturday, 23 June 2012

Die donker dood


Reddingswerkers van verskeie munisipaliteite rondom die Bontekoe-myn probeer onwettige mynwerkers red. Altesame 19 is dood, en net 10 lyke is verwyder. Foto: Yunus Mohamed

In die nadraai van die sterftes in die Bontekoe-diamantmyn moet maat-skappye soos De Beers en die regering aanspreeklik-heid aanvaar vir hul aandeel in ’n tragedie wat van ver af kom, skryf Horst Kleinschmidt.

’n OOMBLIK lank was daar verontwaardiging toe 19 mans gesterf het toe hulle onwettig vir dia­mante gedelf het in die Hondeklipbaai-Kleinzee-gebied in die Noord-Kaap.

Die plek waar die ramp plaasgevind het, is as Bontekoe bekend. Twaalf werkers kon veilig uit die myn kom.

Stel jou voor dat woestynsand en puin op jou inkalwe. Met jou laaste teue asem jy stof in, en dan sand. Die dooie mans, wat waarskynlik almal in die onlangse verlede deur die De Beers-diamantmyne afgedank is, moet dikwels aan so ’n dood gedink en dit gevrees het. Hulle was nie die eerstes wat daar gesterf het nie.

Wat dink jy wanneer jy oor hierdie jong mense lees? Dat hulle onwettig opgetree het; dat hulle die gevaar moet aanvaar wat met diefstal gepaardgaan? Of erger: Het jy gedink hulle het dit aan hulself gedoen?

Agterna het die dooie mans se vriende onbeskaamd gesê hulle sal terug wees om daardie skagte te kom uitgrawe. Dit pla hulle nie om aan die verkeerde kant van die wet te wees nie. Hulle is jonk, arm en werkloos.

Aanvanklik het die oorlewendes en die plaaslike families gehelp grawe om die vasgekeerdes te soek. Toe het die groot manne van De Beers opgedaag, die plaaslike mense die terrein verbied en gou aangekondig dit was sinloos om die oorblywende lyke te probeer opspoor. Spoedige ontbinding maak identifisering moeilik.

Woede leef voort

Woede leef voort in die gemeenskappe van Hondeklipbaai, Koing­naas, Buffelsrivier en Komaggas. Maar waarheen moet hul woede – en ons s’n – gerig word?

Wat het hierdie jong mans gedryf? Vernietigende armoede is een verduideliking. Ek het Hondeklipbaai ’n dekade gelede saam met die destydse adjunkminister van omgewingsake, Rejoice Mabudafhasi, besoek. Wanhopigheid was deurdringend. De Beers het op die dag van ons besoek drinkwater deur die dorp se beperkte verspreidingsnetwerk gepomp, pleks van die gewone brak water.

Daar is steeds ’n desperate behoefte aan basiese dienste in hierdie gemeenskap.

Die mense hier droom van ’n verlede toe hulle vee besit het en weiding in ’n wye radius om die dorp vir hul vee gekies het. Toe het die diamantmynbedrywighede hulle gestuit. Hulle droom van ’n tyd toe ’n vissersvloot en ’n fabriek hier bedryf is. En stel jou voor, 150jaar gelede het seilbote passasiers en vrag van Kaapstad na hierdie tans vergete plek gebring.

Wortels van verontregting

Maar die wortels van ons verontregting strek veel verder as die afwesigheid van werk en dienste.

Hier is die afgelope 90jaar vir diamante gedelf. Bykans die hele kusstrook is met hoë heinings afgesper, gepatrolleer en buite perke verklaar vir diegene wat hul bestaan daar gemaak het.

Oortredings is met ’n lang tronkstraf gestraf, alles as gevolg van ’n steen wat geen intrinsieke waarde het nie. Die geskiedenis van ongeoorloofde diamantaankope en -verkope het dwarsdeur die geskiedenis fortuinsoekers gelok, maar tensy jy ’n uitverkore lid van ’n oligargie is, is lang tronkvonnisse jou voorland.

Toe my beroep my in dié mynbou-heiligdom ingeneem het, het die toegang-en-uitgang-stelsel my herinner aan toe ek voor 1975 die grensposte na die Fascistiese Portugese kolonis oorgesteek het. Die myners word elke dag liggaamlik ondersoek en betas voordat hulle huis toe gaan. Leuenverklikkertoetse en eenrigtingspieëls maak deel uit van die arsenaal wat verseker hierdie stene behaal die prys wat die kartel wil hê.

Gewone burgers het die afgelope 90jaar nie hierdie kuslyn gesien nie. Die dorpe daarbinne, Kleinzee en Koingnaas, is die private eiendom van De Beers, wat alle dienste, winkels, vulstasies en kroeë beheer – sodat dwase mans stene sal koop vir maklik oortuigbare vroue wat verlei word deur De Beers se stok­ou slagspreuk: “Diamante is ’n vrou se beste vriend.”

Bondgenoot

Maar De Beers het ’n bondgenoot: die staat. Die travestie sou nie kon plaasvind as die regering, wat konsessies periodiek hertoewys, nie ’n beskermende mantel aan De Beers gebied het nie. Hierdie mantel is die eerste keer verskaf toe Jan Smuts eerste minister was en ons die onderdane van ’n ander diamantliefhebber, koning George V. Om konsessies te kry vereis altyd om na die heersers te vry. Die Oppenheimers het, en dit het van hulle een van die rykste families ter wêreld gemaak. Ander sluit in die Ruperts (Trans Hex) en meer onlangs ons minister van behuising, Tokyo Sexwale (aandeelhouer in Trans Hex).

Omdat hy deur tronkheinings omring word, kan die gemeenskap van Hondeklipbaai nie gaan visvang vir ’n bestaan nie. Ook die see is aan De Beers toegeken, en diamante word met reuse-stofsuiers uit elke spleet onder die water gesuig.

Die mense van Hondeklipbaai het net toegang tot ’n korridor van 5km. As jy suid of noord afdwaal, betree jy die sekuriteitsone wat van die land die see in strek.

Hulle word dus in die versoeking gelei om met hul bootjies verder van die kus vis te vang as wat veilig is, waar die dood weer eens hul onveilige bestaan bedreig.

Wêreldresessie

Die wêreldresessie van 2008 en die einde van “waardevolle” diamantvondste het De Beers gelyk getref. Hy het dus feitlik sy hele werkmag ontslaan – vir De Beers ’n sakebesluit, maar vir diegene wat drie generasies daar gewerk het, ’n ramp. Afleggingspakkette het gou opgedroog. Plaaslike pastorale versorgers het getuig van die versnellende maatskaplike verval, met baie mans wat na ander weivelde vertrek het.

Nie skaam om sy beeld te poets nie, het De Beers aangekondig hy wil ’n “blywende nalatenskap” agterlaat.

Dit klink belowend. Hy wou alternatiewe werk skep vir gemeenskappe wat bykans ’n eeu lank van hom afhanklik was.

’n Paar plaaslike inwoners, indrukwekkende nie-regeringsorganisasies soos die hoog geagte Amerikaans gebaseerde Con­ser­va­tion International en ander het internasionale kundiges gehuur wat betrokke was by die suksesvolle omskepping van woestyne in produktiewe landbou-, tuinbou-, akwakultuur- en bewaringsondernemings. Ons is gevra om dié nalatenskap ’n werklikheid te maak – alles op ons eie onkoste! Maar De Beers het nie sy beloftes nagekom nie. Herhaalde praatsessies is gestaak toe diegene wat deur De Beers gestuur is om met ons te praat, self afgedank is.

‘Blywende nalatenskap’

Die jong myners het gesterf omdat De Beers geen nalatenskap agtergelaat het nie. Geen bron van werk met enige impak is geskep nie. En die regering het gefaal. Hy het nie daarop aangedring dat De Beers sy “blywende nalatenskap” in werking stel nie.

Wat kon gedoen gewees het? De ­Beers het hierdie deel van die kus misvorm met honderde uitgrawings, gate van tot 15m diep en ’n kilometer lank. Volgens De ­Beers verplig die wet hom om die gebied te rehabiliteer deur die gate op te vul.

Maar as die politieke wil, welwillendheid van die maatskappy en ’n toegewyde burgerlike gemeenskap bestaan het, kon hierdie gebied ’n top-akwakultuurgebied geword het. Dit sou ’n wen-wen-situasie gewees het, met dele van die tussengetysone wat omskep kon gewees het in oester-, mossel-, seewier- en selfs vinvistenks. By visserye wat ons in bedryf gestel het, het suksesvolle eksperimente getoon hierdie is rea­listiese opsies. Windkrag, ontsoutingsaanlegte en die oes van dou vir water is alles ondersoek. Die verslae vergader nou iewers stof.

Kultuurmoord

De Beers se aandeel strek verder.

Hy het die kultuur van hierdie gemeenskappe doodgemaak. Die dooie mans se voorvaders was welvarende vee- en bokherders tot 1920, toe die veiligheidsheining hulle gekeer het om hul vee in die winter kus toe te neem, waar die klimaat matiger en water volop was en die plantegroei kos vir die diere verskaf het.

Die Khoi-Khoi het sedert vervloë tye hier nomadiese veeteelt beoefen. In die somer het reën die lewe in die heuwels en verder die binneland in in stand gehou. Hul grond is sonder vergoeding afgeneem.

In Rustenburg deel die Bafokeng in die platinumwins omdat dié delfstof op hul grond gevind is. In Noorweë deel gemeenskappe in die wins van gas wat aflandig in die gebiede naaste aan hulle ontgin word.

Die mense van Hondeklipbaai, Komaggas en Buffelsrivier het niks gekry nie. Hulle is beroof.

Kleinschmidt was van 2000 tot 2005 hoof van die regering se visserye-afdeling.

- Volksblad

No comments:

Post a Comment