Wednesday, 6 June 2012

Hondsdolheid eis optelhond



Simba, die drie maande oue optelhond wat in Johannesburg aan hondsdolheid dood is. Foto: Megan Carter, Eienaar

’n Hond wat ’n Johannesburgse student met vakansie in Koffiebaai in die Oos-Kaap langs die pad opgelaai het en huis toe gebring het, is dood aan hondsdolheid.

Dit is die eerste voorval van hondsdolheid in Johannesburg vanjaar. Verlede jaar was daar agt voorvalle en in 2010 was daar 44.

Simba is Sondag in Chartwell, Johannesburg, dood en toetse wat Maandag by Onderstepoort gedoen is, het bevestig dat die drie maande oue hond aan hondsdolheid dood is.

Dr. Johan Walters, adjunkdirekteur van dieregesondheid, het Megan Carter, Simba se eienaar, en haar ma, Julie Lloyd, se huis gistermiddag besoek en hul hond en twee katte, sowel as die buurman se honde, ondersoek.

Volgens Walters was Lloyd se diere se inentings nie op datum nie en sal hulle nou óf van kant gemaak moet word óf vir ses maande in isolasie gehou moet word. Volgens hom kan dit tot ses maande duur voordat ’n dier simptome van hondsdolheid wys en dan is dit te laat vir behandeling.

Lloyd sê sy het agtergekom iets is nie pluis nie toe Simba voorverlede Saterdag (26 Mei) vreemd begin optree het.

“Hy het net nie kalm geword nie, hy was ’n bietjie aggressiewer en sy oë het donkerder gelyk. Ons het egter nie vir ’n oomblik gedink dit kan hondsdolheid wees nie.”

Hulle het hom na die Chartwell-dierekliniek geneem waar hy onmiddellik in kwarantyn geplaas is. Hy is Sondag dood.

Lloyd sê haar dogter is platgeslaan oor wat gebeur het. Carter het gereeld met Simba in die Kingfisher-park in Fourways gaan stap en is nou bekommerd oor al die honde waarmee Simba in aanraking kon gekom het.

Walters is ook bekommerd daaroor en het gister gesê mense van die gebied sal binne twee weke die geleentheid kry om hul diere gratis teen hondsdolheid te laat inent.

Melanie Whelan van Tears in Kaapstad, waar Simba ingeënt en vir ’n velsiekte behandel is nadat Carter hom opgetel het, was geskok toe sy hoor waaraan hy dood is.

Sy sê hy het geen teken van hondsdolheid getoon toe hy op 13 April Johannesburg toe is nie.

- Mense wat vermoed dat hul honde dalk kontak met Simba in die Kingfisher-park in Fourways gehad het, moet dr. Duma Mpofu, Gautengse staatsveearts, by 011 821 7700 bel.

- Beeld

No comments:

Post a Comment