Friday, 8 June 2012

Hondsdolheid-vrees



Barbara Boshoff en haar man, Wessel, tydens ’n besoek aan ’n wildplaas. Sy het moontlik hondsdolheid opgedoen.

’n Vrou van Phalaborwa vrees sy het dalk hondsdolheid opgedoen toe ’n dol hond haar twee weke gelede gebyt het.

Barbara Boshoff (45) kry die afgelope twee weke behandeling teen dié gevreesde siekte.

Haar man, Wessel, is ’n dokter in die dorp en behandel haar.

Sy het tot gister nog geen simptome van hondsdolheid getoon nie.

Die Boshoffs is groot diereliefhebbers en het 12 honde op hul hoewe naby die informele nedersetting Lulekani.

’n Maer, swart Deense hond het op 27 Mei daar aangekom.

“Hier kom gereeld honde van Lulekani aan en dan gee ek vir hulle kos,” het sy gesê.

Boshoff het ’n stuk brood by die agterdeur uitgegooi.

Die hond het nader gekom en haar hand gelek.

“Ek het toe gedink die hond is vriendelik.”

Net daarna het die hond op een van Boshoff se weimaraners, Brutus, afgestorm en hom stukkend gebyt.

Die dol hond het toe na die perdestalle gehardloop.

Boshoff het ’n tou om sy nek probeer kry.

“Toe ek die tweede keer probeer om die tou om te sit, draai die hond om en byt my aan die voorarm.”

Dit was nie ’n diep wond nie, maar baie van die hond se speeksel het op Boshoff se arm beland.

Sy het toe gesukkel om die hond van haar honde weg te kry. Sy het hom in ’n motorhuis met ’n staalroldeur toegemaak.

“Ek het nie eers daaraan gedink om die speeksel af te was nie.”

Sy het die Dierebeskermingsvereniging (DBV) gebel om die hond te gaan haal. Intussen het die hond uit die motorhuis gebreek.

Hy is die volgende Vrydag dood.

Die DBV het toetse by die Onderstepoort- Veeartsenykundige Instituut op die dier laat doen wat gewys het hy het hondsdolheid gehad.

“Op die agtste dag ná die byt is ek vier keer teen die siekte ingespuit omdat ek nie net ná die byt behandeling gekry het nie,” het Boshoff gesê.

Sy is die afgelope twee weke met Verorab behandel.

“Ek moet nog agt weke behandeling kry en bid dat ek nie siek word nie.”

Die simptome van hondsdolheid neem enigiets van twee tot tien weke om te begin wys.

Brutus is voor die byt teen hondsdolheid ingeënt.

Sy bytwond herstel goed.

Boshoff het Dinsdag haar testament in orde gekry en ook reëlings getref by die Mediclinic Tzaneen indien sy opgeneem moet word.

“Ek wou die hond net help omdat hy so verwaarloos gelyk het.”

Die egpaar het twee kinders van wie die jongste in matriek is.

- BEELD

No comments:

Post a Comment